Een van Worcester se sokkerklubs wat oor die jare sinoniem met gehalte-sokker en spelers van formaat geword het, Manchester United, vier vanjaar sy 60ste bestaansjaar.

Nie net het MU, soos hy algemeen bekendstaan, saam met spanne soos Flying Stars en Mountain Sweepers van Zwelethemba vir ’n lang ruk sokker in die streek oorheers nie, maar hy het ook oor die jare spelers opgelewer wat later legendaries was.

MU is op 10 April 1963 aan huis van die destydse munisipale swembad in Greystraat se opsigter en menseredder, Willie Titus, in die lewe geroep. Vir die eerste bestuur van die klub is gekies James (Churry) Wright as voorsitter, Ronnie (Paloek) Lucas as sekretaris en Willie Titus as kassier. Ander bekendes van daardie era op hierdie geskiedkundige vergadering was Piet (Manoemba) Bailey, Dawid Rainers, John Spogter, Jan Booysen, Jan Blaauw, Japie Coetzee, Sammy (Starlight) Standaard, Andries (Zarak) Swarts en sy broer Koos (Joppels) Swarts en Abraham Nimmerhout. Omdat Lucas egter ook een van MU se sterspelers was, is die jongeling Alver Uys in dieselfde jaar gevra om die sekretariaat te behartig. Terloops, die span, nes hul rolmodelle in Engeland met dieselfde naam, het ook in die kenmerkende rooi en wit kleure van hul Engelse eweknieë gespeel terwyl die klub se wapen ironies genoeg deur een van die opponent-spelers Kosie Eyman ontwerp is.

MU het in sy opmars oor die jare die Hunters-trofee, Virginiabeker, Maggot-trofee, ligatitel asook die Worcester Standard-skild verskeie kere verower. Wyle Japie Bosman, vanweë sy noue verbintenis met die klub, het later as ’n soort werwingsagent vir die klub opgetree en verseker dat verskeie spelers – veral uit die Karoo – hulle by die klub aansluit.

Van die bekendes was (Perroy) Marlo Jackson, Temba Poya, Attie Duimpies en Andries Wylbagh. MU het ook tot groot ontsteltenis van die destydse regering van die dag toegelaat dat verskeie spelers uit die Portugese gemeenskap, waaronder die bekende Cardoso-sakemanne, by die klub geakkommodeer word. Dié spelers is destyds met alle mag verbied om sokker saam met die klub se spelers te speel en dikwels hardhandig van die veld verwyder.

MU se tuisveld (behalwe vir Esselenparkstadion ná 1970), was agter die swembad in Greystraat en het gewoonlik Sondae honderde entoesiastiese ondersteuners gelok. Die klub het ook gereeld besoek ontvang van die spogklub van Beaufort-Wes, Happy Hearts, terwyl hulle ook gereeld kragte gaan meet het teen spanne van De Aar, Graaff-Reinet en Nelspoort.

MU, wat nog steeds aktief deelneem aan kompetisies onder die vaandel van die Breedevallei LFA, beplan volgens een van sy langslewende lede, Sammy Pekeur, verskeie gala-geleenthede om dié mylpaal op gepaste wyse te vier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article