’n Man van De Doorns is Sondag 15 September in Zwelethemba vermoor.

Die voorval het net ná 04:00 in die New Mandela Square-gebied gebeur.

“Die polisie het om 04:50 ’n klagte ontvang van ’n man wat in Zwelethemba gesteek is. Met hul aankoms op die toneel het hulle die man langs ’n informele struktuur kry lê, met ’n steekwond aan sy regteroor,” sê AO. Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie.

Volgens Jacobs was daar ’n stryery tussen die oorledene, Wandisile Mahlumba, en die verdagte.

“Volgens ’n getuie, Mahlumba se voormalige meisie, het hy by haar woning ingekom, saam met ander vriende. Die twee het mekaar lanklaas gesien en die ander vriende het hulle twee toe alleen gelos terwyl hulle gesels het. Ná ’n ruk het die getuie se huidige kêrel opgedaag en op die twee wat gesels, afgekom.”

’n Bakleiery het toe tussen die twee mans uitgebreek.

“Mahlumba het toe by die informele struktuur uitgehardloop en die verdagte het hom agternagesit. Mahlumba se lyk is toe in ’n gangetjie tussen twee informele strukture gevind. Hy is op die toneel dood verklaar,” sê Jacobs.

Die polisie is steeds op soek na die verdagte.

. Kontak die Worcester-polisie by 023 348 8600 met enige inligting oor waar die verdagte hom bevind.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article