’n Man van Zwelethemba, Worcester, se lewe is Sondagoggend (1 Desember) kortgeknip toe hy verskeie kere met ’n mes gesteek is.
Die oorledene is Sakhepi Khumalo (30) van Withuis, Zwelethemba.
Volgens AO Vathiswa Jacobs, ’n polisiewoordvoerder, het Khumalo omstreeks 11:50 by ’n huis in Yabostraat, Zwelethemba, ingehardloop terwyl twee mans, gewapen met messe, hom agtervolg het.
Khumalo se aanvallers het hom tot in die huis gevolg, waarna hulle hom verskeie kere met messe in die bolyf gesteek het totdat hy inmekaargesak het. Volgens Jacobs het een van die aanvallers ’n bebloede Khumalo terug tot in die straat gesleep, waar die ander aanvaller hom weer gesteek het.
Sy aanvallers het ná die voorval op die vlug geslaan.
Mediese personeel het Khumalo op die toneel dood verklaar.
Volgens Jacobs is niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Enigeen met meer inligting oor die voorval kan die Zwelethemba-polisiekantoor by 023 345 8000 skakel.

