Die moord op ‘n man helder oordag op straat het hewige reaksie van die gemeenskap in Worcester ontlok.
Lesley Philander was op Woensdag 27 Augustus net voor 17:00 oudergewoonte op pad huis toe ná werk. Hy en ‘n vriend het in Hoogstraat afgestap toe ‘n vreemdeling hulle voor die Koffiehuis-kafee voorkeer en vir R2 vra.
“Volgens die man wat saam met Philander gestap het, het hulle gesê dat hulle nie geld by hulle het nie,” het AO Vathiswa Jacobs, ‘n woordvoerder vir die Worcester-polisie, gesê.
Die verdagte het glo bakleierig geraak en Philander gekonfronteer. Sy vriend het aan Philander gesê hulle moet eerder loop, maar die volgende oomblik het die vreemdeling se regterhand opgeskiet en hy het Philander een keer in die borskas gesteek.
Die polisie was vinnig op die toneel en die verdagte is in hegtenis geneem. Nooddienste is ontbied, maar Philander is op die toneel dood.
Inwoners het hewig op die nuus van hierdie voorval gereageer met talle wat op Standard se Facebookblad gesê het hulle voel nie meer veilig in die middedorp nie. Hulle het die skuld vir die toename in geweldsmisdade in die omgewing op dwelms en bendes gepak.
Van die inwoners het ook gesê dat bedelaars ‘n al groter probleem word.


