’n Inwoner van Worcester is ten gronde nadat haar geliefde Jack Russell voor haar oë doodgery is en die man wat bestuur het, bloot weggejaag het.
Sandra Fourie vertel aan Standard haar hart is “in duisend stukke gebreek” nadat sy haar geliefde troeteldier Maandagaand (13 Maart) moes groet.
“Aan die een kant is my hart versplinter. Aan die ander kant kook my bloed behoorlik.”
Fourie se man het omstreeks 20:00 van die werk af tuis gekom en sy het die hek vir hom oopgemaak sodat sy kruideniersware uit die voertuig kon uitlaai. Sy was besig om die hek toe te stoot toe Billie, haar geliefde hond, uit die erf in Tulbaghstraat hardloop.
“Ek het hom dadelik agternagesit en wou hom by die erf injaag. Hy het heel verbaas aan die oorkant van die pad gaan sit en ek wou hom gaan optel. Hy het toe na my toe gehardloop. Die volgende oomblik het ’n rooi Volkswagen Polo om die draai gejaag gekom en die stopstraat heeltemal verontagsaam. Hy het met ’n helse spoed gejaag en is bo-oor my hondjie. Ek het verwag hy gaan stilhou, want ek het hom direk in die oë gekyk. Hy het net ratte verwissel en verder gejaag. Toe ek by Billie kom, het hy swaar asemgehaal en dit was omtrent net bloed oral,” vertel ’n emosionele Fourie aan Standard.
Fourie verduidelik verder dat hierdie tragedie nie iets is wat enige diereliefhebber of troeteldiereienaar ooit moet aanskou nie.
“Ek het in die pad af gehardloop en wou kyk of ek sy registrasienommer kon uitmaak. Ek weet dit was ’n Kaapstad-registrasie, maar dit is al wat ek kon uitmaak en kon onthou.
“Ek is dadelik daarna na Billie toe en het net by hom gesit. Ek het so gehuil, ek kon skaars ordentlik sien wat rondom my aangaan.”
Billie het sy laaste asem ’n paar minute ná die tragiese voorval uitgeblaas en Fourie se man het hom van die pad af verwyder.
“Ons wou veearts toe jaag, maar dit was reeds te laat.”
Fourie sê sy weet nie waarom mense roekeloos bestuur en dan nie verantwoordelikheid neem vir hul optrede nie.
“Hy moes weet dat hy oor my hond gery het. Sy kar het amper gehop, so erg was die slag. Ek wens ek kan hom in die oë kyk en verduidelik dat hy een van die belangrikste dinge in my lewe van my weggeneem het.”
Fourie het Billie sowat agt jaar gelede as geskenk gekry nadat haar destydse troeteldier van 13 jaar weens ouderdom oorlede is. Sy het die naam Billie gekies, omdat sy gevoel het haar Jack Russell se oë laat haar aan haar oorlede pa s’n laat dink.
“Nou is hy net weg. Ek voel magteloos.”
Sy oorweeg om ’n klagte by die polisie aan te meld, maar glo sy gaan nie iets uitgerig kry sonder ’n registrasienommer of ooggetuies nie.
Billie word deur ’n plaaslike ondernemer veras en sy as sal dan in ’n gedenkboksie geplaas word.





