Robert Murray (27) se vermeende moordenaar is onlangs vasgetrek.

Credit: SYSTEM

Die 27-jarige Richard Murray, wie se liggaam in Oktober vanjaar in die Worcester-dam gevind is, is vermoedelik nie weens selfdood oorlede soos oorspronklik bevind is nie.

Twee mans het op Woensdag 12 Oktober omstreeks 08:00 op ’n gruvonds afgekom toe hulle ’n bebloede lyk naby die Worcester-dam gevind het.

Volgens AO Vatishwa Jacobs, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie, het hierdie twee mans glasbottels en skrootmateriaal bymekaar gemaak toe hulle op die lyk van Murray afgekom het.

“Sy liggaam was bebloed en by verdere ondersoek het ons bevestig inwoners van die Tuindorp-gebied net agter die dam het die man nog die vorige aand gewaar met snymerke aan sy gewrigte. Hy het mense in dié omgewing ingelig dat hy sowat 47 tablette ingeneem het.”

Die polisie het egter gesinspeel dat hy weens selfdood oorlede is. In ’n skokwending is ’n inhegtenisneming weens sy moord egter onlangs uitgevoer.

Murray se familie is in kennis gestel van sy afsterwe en is ’n paar dae later na Worcester om sy lyk uit te ken. Murray se pa, Stuart, het aan Standard vertel dat hulle vreeslik hartseer was oor hul seun se afsterwe, maar geweet het dat dit nie weens selfdood kon wees nie.

“Ons seun het op ’n plaas buite die dorp by ’n bekende rehabilitasiesentrum gewerk. Hy is nie baie goed behandel nie en was daardie dag besonder ontsteld. Hy is nie iemand wat sy eie lewe sou neem nie en die merke aan sy lyf was beslis nie deur sy eie toedoen nie – dit was weens die feit dat hy met ’n mes gesteek is en toe vir die dood gelaat is by die dam.”

Enkele dae nadat Murray se liggaam ontdek is, is die 22-jarige Juchrist de Lange in hegtenis geneem weens die moord. De Lange is ’n inwoner van Tuindorp, die gebied waar ooggetuies vir Murray die laaste keer gewaar het.

Volgens ’n bron na aan Standard blyk dit die merke en snye aan Murray se liggaam was die gevolg van veelvuldige steekwonde. Dit lyk ook of Murray nie net met ’n mes gesteek is nie, maar ook dalk op plekke met ’n stomp voorwerp, soos ’n skroewedraaier.

Dit is egter onbekend aan Standard of die slagoffer en verdagte mekaar enigsins geken het.

Standard is na Tuindorp om meer uit te vind oor die voorval, maar inwoners daar weier om te praat. Een vrou, wat verkies om anoniem te bly, verduidelik dat sy gehoor het van onderonsies waar­in die verdagte al betrokke geraak het, wat gewoonlik gewelddadig geëindig het.

De Lange is onlangs ook op R500 borgtog vrygelaat en in sy ma se sorg geplaas. Hy het drie vorige skuldigbevindings teen sy naam vir diefstal. Die saak is uitgestel vir nadere ondersoek en hy sal weer 9 Februarie in die plaaslike hof verskyn.

Dit is egter onseker of die verdagte alleen opgetree het om die beweerde misdaad te pleeg.

Murray se pa wil net hê geregtigheid moet geskied en maak staat op die owerhede om die wet toe te pas.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article