Die man wat homself Woensdag (12 Oktober) aan die polisie oorhandig het na hy sy vriendin glo vermoor het, het gister in die hof verskyn.
Volgens adjudant offisier Vathiswa Jacobs, die Worcester-polisie se woordvoerder, is die polisie Woensdag om 10:52 deur die gemeenskap in Avianpark in kennis gestel van ’n lyk binne ’n huis.
“Met die polisie se aankoms op die toneel het hulle voetspore in bloed wat na ’n binne die huis gaan, opgemerk. Toe hulle die huis binnegaan het hulle rook geruik. Die kamerdeur was effens oop en hulle het iemand se arms op die vloer, agter die deur sien uitsteek,” verduidelik sy.
Weens die rook het hulle die huis verlaat om deur die kamer se venster te kyk.
“Hulle het toe die lyk van ’n vrou agter die deur sien lê, asook meer rook.”
Die brandweer is ontbied. Paramedici het ook die vrou op die toneel dood verklaar nadat die brand geblus is.
“Die oorledene het veelvuldige steekwonde aan haar lyf gehad.”
Terwyl die polisie nog met hul ondersoek op die toneel besig was, het ’n man homself by die Worcester-polisie gaan oorhandig.
“Hy in hegtenis geneem en van moord aangekla.”
Talle mense het op sosiale media hul medelye betuig ná die nuus van die vrou se dood gebreek het.
“Sy was voorwaar ’n baie opregte persoon. Rus sag my kollega,” het een sosiale media verbruiker geskryf.
’n Ander het geskryf: “Woorde ontbreek vandag. My hart is stukkend, is so seer. R.I.V vriendin. Sterkte aan haar familie en vriende. Sal altyd jou mooi glimlag en stralende persoonlikheid onthou.”
Dit is op hierdie stadium onduidelik of die man steeds in aanhouding is.





