’n Plaaslike inwoner het besluit om Sondag sy verjaardag saam met haweloses te vier.
Gielie Mekaai Daniels het Sondag 50 jaar oud geword en het besluit om dit op hierdie manier te vier nadat hy ’n berig gelees het oor ’n man wat ’n aand saam met ’n hawelose op straat deurgebring het.
“Ek het op hierdie viering besluit na aanleiding van ’n berig waarin ’n man ’n nag op straat saam met ’n hawelose geslaap het. Dit het my laat besluit om ook my 50ste verjaardag saam met haweloses te vier. Ek was opgewonde toe ek hieraan dink en ek wou ook uitreik na ander,”’ verduidelik hy.
Sy aanvanklike plan was om net 50 haweloses op sy spesiale dag te bederf.
“My plan was om die dag saam met 50 van ons plaaslike haweloses te geniet. Gelukkig was daar naastenby 50 haweloses by die kerk in Kerkstraat; die ander het ek aan die raadslid Nik Wullschlegger en ander kerkgangers gegee. Ek dink hulle was 44 haweloses altesaam, en daar was nog ses kerkgangers en YWAM-lede.”
Daniels is tans werkloos en het self die koek en koeldrank voorsien. Hy het voorheen vir 25 jaar by PA Venter gewerk voordat hulle in April gesluit het. Die inkomste wat hy verdien van salf wat hy verkoop – Oom Dan se Wondersalf – het dit moontlik gemaak om hierdie partytjie te hou. Verder verduidelik hy dit was die regte besluit om hierdie mylpaal-verjaardag saam met haweloses te vier.
“Dit was ’n belewenis. Ek het geseënd gevoel en geweet dit was die regte en beste besluit nóg. Selfs die All Blacks se oorwinning van 23-35 oor die Springbokke het dit vir my meer spesiaal gemaak, want toe kon ek my verjaarsdag met ’n lied in my hart saam met die haweloses vier. Hulle het selfs vir my in die kerk happy birthday gesing.”





