WORCESTER – ’n Man (53) is verlede week in die dorp in verband met kinderpornografie in hegtenis geneem.

Volgens ’n verklaring deur die provinsiale polisie was die man in besit van sowat 95 000 foto’s en 6 000 videos. Die inhegtenisneming is deel van ’n internasionale optrede om vervaardigers, gebruikers en verspreiders van kinderpornografie op te spoor.

Die inhegtenisneming is ook in ’n gesamentlike optrede deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens se reeks- en elektroniese misdaad-ondersoekeenheid en die Verenigde State van Amerika se departement van binnelandse veiligheid, en is Woensdag 17 Januarie uitgevoer.

Die polisie het hierdie inligting in ’n verklaring op sy amptelike Facebook-blad gedeel. Die verklaring noem dat twee ander mans ook verlede week op dieselfde klagtes in hegtenis geneem is.

’n Man (40) van Kraaifontein is Donderdag 18 Januarie in hegtenis geneem en nog ’n man (32) is Vrydag 19 Januarie in Mitchell’s Plain in hegtenis geneem.

“Hierdie inhegtenisnemings is deel van ’n internasionale ondersoek om vervaardigers, gebruikers en verspreiders van kinderpornografie op te spoor. Dit bring die aantal aanlyn seksuele oortreders wat sedert November in hegtenis geneem is, op sewe te staan. Die ander vier is in November verlede jaar in hegtenis geneem. Drie is in Gauteng in hegtenis geneem, en een in KwaZulu-Natal,” lui die verklaring.

Volgens hofdokumente het die beskuldigde van Worcester Donderdag 18 Januarie in die hof verskyn.

“Altesaam 200 aanklagte van besit (van kinderpornografie) sal byvoeg word,” lui die hofdokument.

Verder lui die dokument die beskuldigde is skuldig daaraan dat hy elektroniese toestelle gebruik het om na kinderpornografiese beelde te kyk of van die internet af te laai; so ook van “die besit van kinderpornografiese materiaal op sy selfoon, insluitend, maar nie beperk nie, ook anale penetrasie, self-masturbasie en (toon van) geslagsdele”.

Die beskuldigde sal vandag, Donderdag 25 Januarie, vir ’n borgtogaansoek in die hof verskyn.

Die ander twee beskuldigdes het Maandag (22 Januarie) in die hof in hul onderskeie streke verskyn. Hulle moet weer Maandag 29 Januarie en Dinsdag 30 Januarie in die hof wees.

Eric Ntabazalila, ’n woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het gesê hulle gaan borgtog in al drie sake teenstaan. ?

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article