‘n Man is op die vooraand van Vrouemaand vir 13 jaar tronk toe gestuur nadat hy ‘n vrou, wat geweier het om ‘n vriendskap met hom aan te knoop, aanhoudend met ‘n mes gesteek het met die bedoeling om haar te vermoor.

Freduwaan Manuel (30) van Bonnievale is 13 jaar tronkstraf opgelê, waarvan drie jaar opgeskort is op voorwaarde dat hy nie skuldig bevind word op klagtes van poging tot moord, aanranding met die opset om ernstig te beseer of aanranding nie. Hy sal dus 10 jaar direkte tronkstraf uitdien.

Hy het skuld op die klag van poging tot moord beken nadat hy ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het.

Manuel sê in sy pleitooreenkoms hy het die klaagster – wat goed aan hom bekend is – op 29 September 2024 in Happy Valley, Bonnievale, raakgeloop.

Hy erken hy en die klaagster was weens verskeie redes haaks met mekaar, wat uiteindelik tot ‘n stryery tussen hulle gelei het.

Volgens hom het hy – toe die klaagster sy versoek om ‘n vriendskap met haar aan te knoop, van die hand gewys het – haar meer as een keer met ‘n mes begin steek met die bedoeling om haar te vermoor.

Hy sê hy dra die mes by hom vir sy persoonlike veiligheid. Volgens Manuel was hy baie kwaad.

Luidens sy pleitooreenkoms het die klaagster om hulp geskree terwyl sy haar probeer teësit het. Volgens hom het hy sy aanval op haar gestaak toe lede van die publiek ingegryp het.

Manuel erken dat die polisie gekontak is, dat hy in hegtenis geneem is en gevolglik strafregtelik aangekla is.

Hy erken voorts sy optrede was onwettig, doelbewus en dat hy die klaagster aangerand het met die bedoeling om haar te vermoor.

Met betrekking tot die verswarende omstandighede het die hof gehoor dat die howe daagliks aanklagte van fisieke geweld hanteer.

Ter verdere verswaring het die klaagster haar skok en verontwaardiging uitgespreek oor

Manuel se gedrag aangesien sy hulle ten spyte van ‘n mate van vyandigheid tussen hulle as kennisse beskou.

Sy het egter nooit verwag dat so ‘n voorval ooit tussen hulle sou plaasvind nie.

Die hof het ook gehoor dat die samelewing van die howe verwag om beslissend op te tree teenoor oortreders wat misdade teen vroue, kinders en ouer mense pleeg – veral waar geweld betrokke is.

Voorts is gesê dat die gemeenskap nie sulke ernstige oortredings duld nie en die howe smeek om gepaste vonnisse op te lê.

Manuel het vorige veroorde- lings, wat fisieke geweld insluit.

Die versagtende omstandighede wat in rekening gehou is met vonnisoplegging, is dat Manuel skuldig gepleit, berou getoon en die klaagster se besittings teruggegee het.

Elton Willemse het aangekla. – Enrico Claassen

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article