Danielia Hermanus in die Kaapse Draai-galery. Foto: Tandy-Lee Marinus


By Kaapse Draai, waar kunswerke vanuit Zwelethemba tot Ceres uitgestal word, móét jy ’n draai maak! Dit is die galery vir die “gewone” mense.

Die Kaapse Draai Arts and Crafts-galery op die hoek van Trappes- en Hoogstraat word bedryf deur toerisme-ghoeroe Danielia Hermanus.

Sy is die voormalige finansies- en adminklerk van die Worcester Besigheidsforum (WBF).

Verlede jaar het sy besluit om haar passie vir die toerismebedryf uit te leef en vir Vallei-kunstenaars ’n afsetpunt vir hul werke daar te stel.

“Die mark is duur en jy weet nie of jy alles gaan verkoop nie, maar hierdie mense is só talentvol,” sê sy.

Vir haar is dit ’n trotse oomblik wanneer sy hulp vir iemand kan aanbied.

Hier by Kaapse Draai hou jong meisies van Avianpark hulle besig deur te leer hoe om juwele te maak en tuinwerkers skep 3D-prente. Onder meer word oorbelle gemaak van ’n sleutelbord se sleutels, handgeverfde tafeldoeke word vervaardig en paletmeubels sien die lig.

Om erkenning te gee aan kleinsakemanne en -vroue is die belangrikste doel van die galery. Hier besef jy dat die tyd wat bestee word aan hierdie handwerk, baie meer werd is as die prys daarvan.

“Mense vra altyd hoekom dit so duur is, maar hulle besef nie altyd dat dit handgemaak is nie. Hul wil ook nie altyd local ondersteun nie. Wat hulle nie besef nie, is dat om hier te koop kunstenaars aanspoor en die plaaslike ekonomie ’n hupstoot gee,” sê Hermanus.

Die kunstenaars staan ook altyd reg om diegene wat bereid is, te leer. Hulle kom elke maand bymekaar om idees uit te ruil oor hoe hul voete kan lok na die galery.

Tradisionele koffie en roosterbrood is binnekort op die spyskaart.

Vir nou is daar Aunty Gertie’s Gemmerbier (’n familieresep), Baba’s Jêm en tuisgemaakte soetgoed beskikbaar.

Hierdie Saterdag sal daar van 09:00-13:00 ’n vars groente- en vrugtemark wees.

Vir meer inligting, bel Danielia by 078 464 6010 of 023 004 0477. Die galery is daagliks oop van 08:00-13:00.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article