Die Groenewald-gesin. Pa PG, ma Delouise en Nika en Gordon. Nika en Gordon is albei T1-vegters. Links is die simbool toegeken aan T1-diabete.


’n Ma van Worcester is een van duisende ouers in Suid-Afrika wat elke dag deurdagte besluite moet neem om hul kinders by te staan en te help nadat T1 (Tipe 1-diabetes) by hulle gediagnoseer is.

Delouise Groenewald is onlangs deur ’n moeilike tyd nadat haar kind in die waaksaal opgeneem is danksy T1 en sy wil ander nou aanmoedig om hul kinders te laat toets en met die regte inligting hierdie siekte te bestuur.

“Albei my kinders is Tipe 1-diabete en ’n mens kan nie elke dag voorspel wat die dag sal inhou nie. Ons is bevoorreg deur God se genade om albei kinders op spesiale toestelle (CGM’s) te kan hê wat hul bloedsuikervlakke monitor, maar ongelukkig kan selfs ’n CGM nie eens keer vir wat T1-diabetes soms na jou kant toe gooi nie.”

Nika Groenewald, ’n gr. 4- leerder aan die Langerugskool, het sowat twee weke gelede nog die Woensdagaand by haar skoolkonsert opgetree. Donderdagoggend het alles verander.

“Sy het opgestaan en gekla dat sy naar is, maar steeds het sy aangedring sy wil skool toe gaan. Skaars ’n halfuur nadat die skool begin het, toe moes ek haar gaan haal. Sy het baie gebraak en ek het gedink dit is moontlik ’n maagvirus en gou apteek toe gery om die nodige medikasie te kry. Ek het by die huis gekom en haar ketone getoets en haar vlakke was baie hoog. Sonder om twee keer te dink het ek geweet sy moet ongevalle toe. Als het so vinnig gebeur. Sy was in die waaksaal vir bykans drie dae en is daarna na die kindersaal oorgeplaas.”

Wat is die verskil tussen Tipe 1- en Tipe 2-diabetes?

Tipe 1-diabetes is ’n outo-immuunsiekte. Dit kom voor wanneer die pankreas ophou om die nodige hormone te vervaardig om bloedsuiker te absorbeer. Die diagnose is gewoonlik skielik en dramaties, en vind dikwels in die hospitaal plaas.

Tipe 1-diabetes kom meestal onder kinders of jongmense onder 30 voor, maar dit word by al hoe meer ouer mense gediagnoseer. Dit word nie veroorsaak deur die verkeerde eetgewoontes, te veel suiker, of omdat iemand oorgewig is nie. Tipe 1-diabetes is nie oorerflik nie (dit kom nie in families voor nie), maar dit is geneties (dis in jou gene). Baie kinders wat met Tipe 1-diabetes gediagnoseer word, het geen familiegeskiedenis van diabetes nie. Tipe 1-diabete is daagliks afhanklik van insulien om hul bloedsuiker te beheer. Insulien vir ’n Tipe 1-diabeet is letterlik hul lewenslyn; hulle kan nie daarsonder oorleef nie.

Tipe 2-diabetes is meer algemeen (90% van diabete het Tipe 2). Dit word dikwels deur dieet en leefstyl veroorsaak: Te veel gemorskos, suiker en verfynde koolhidrate, asook te min oefening. Tipe 2-diabete se pankreas werk steeds, maar hul liggaam is weerstandig teen die hormone en kan dit nie doeltreffend verwerk nie. Tipe 2-diabetes, ook bekend as suikersiekte (in Suid-Afrika), kom meestal onder volwassenes voor. Dit word egter ook by baie kinders gediagnoseer (gewoonlik is hulle oorgewig en onaktief).

Die risiko van mense wat oorgewig is, of ’n familiegeskiedenis van diabetes het, is groter – en hulle moet bes moontlik gewig verloor.

Sy vertel verder sy is dankbaar vir goeie medici in die omgewing.

“Ons gesin is geseën met ’n ongelooflike mediese span by Kidzcross en dr. Willie Roux se spreekkamers. Ons loop nou al jare saam die pad. Dis baie moeilik om altyd kalm te bly in so ’n situasie, maar dit is regtig net genade en God se hand wat in elke Tipe 1-ouer se omstandighede ’n rol speel. Ek moes myself oor die jare leer (wat moeilik is) om ’n noodplan te hê in enige situasie, want sodra jy in “panic mode” gaan, kan baie dinge verkeerd loop. Nika is ’n regte klein vegter en sy het almal verbaas met haar vinnige herstel en is weer terug by die skool. Beide Nika en Gordon (haar broer) het so in Worcesteriete se hart ingekruip dat dit net weer eens wys watter mag gebed het.”

Delouise vertel dat daar verskeie platforms op sosiale media is wat ondersteuning aan ouers bied. Sy bestuur ook ’n private Facebook-groep vir ouers genaamd Kids powered by insulin SA support group. In die groep het hulle ook ’n netwerk wat hulp vir die kinders bied.

“Ongelukkig het Suid-Afrika ’n gebrek aan sekere ondersteuningsnetwerke vir diabetes, wat ’n groot kommer vir ouers is en die grootste uitdaging wat elke jaar kop uitsteek is by skole. Ongeluk­kig is daar gevalle oor Suid-Afrika heen waar sommige skole weier om van ons klein diabete in te neem omdat hulle die kinders as ’n risiko beskou. Ons het gevalle waar kinders soms geweier word om behandeling te kry as hul vlakke in sekere skole daal – dit kan lewensbe­drei­gend wees.

“Daar is ook skole wat nie verpleegsters het nie, so niemand kan insulien toedien nie. Die skolewet maak dit soms baie moeilik vir sommige T1-ouers. Bygesê, daar heers ’n geweldige veggees onder ouers en kinders – al is daar groot uitdagings.

“Worcester is geseën met ongelooflike skole wat ouers se hande neem as dit kom by Tipe 1-diabetes en regtig die ekstra myl saam die ouers in ons tuisdorp en omliggende dorpe stap. Die Boland is geseën met ongelooflike mediese spanne in die staat- en private sektor as dit kom by Tipe 1-diabetes. Feitlik moet ek sê die hele Wes-Kaap. Tesame met hierdie uitstekende medici en ons vertroue en geloof in die Here, veg ons elke dag voort,” voeg sy by.

Uitdagings wat die meeste ouers ondervind, is die emosionele, fisieke en finansiële impak wat dit op ’n gesin kan hê.

“Ongelukkig is nie alle mediese fondse toegeeflik as dit kom by die diagnose nie. Dus het ouers massiewe mediese kostes wat hulle self moet dra. Dan is daar die daaglikse 24/7 monitor van jou kind se suikervlakke. Dinge kan binne minute verkeerd loop, soms sonder enige waarskuwing.”

Delouise is nie iemand vir die kollig nie en stel dat sy, nes baie ander ma’s in Suid-Afrika, oplossings soek om dit vir haar kinders beter te maak.

“Hulle is die eintlike vegters. Hulle moet elke dag hierdie siekte in die oë kyk.

Waarvoor kan ouers uitkyk?

Delouise en haar man, PG, is al goed vertroud met diabetes en die bestuur daarvan, aangesien hul kinders op ’n jong ouderdom gediagnoseer is. Hierdie is die simptome waarna opgelet moet word:

1. Gereelde urinering:

As die persoon die badkamer meer gereeld as gewoonlik besoek, kan dit beteken dat die niere probeer om oortollige suiker uit die bloed te verwyder.

2. Uiterste dors:

Die persoon verloor baie water wanneer die badkamer heeltyd gebruik word. Dit kan lei tot uitdroging en veroorsaak gevoelens van oormatige dors, wat waarskynlik sal lei tot die drink van meer vloeistowwe (asook tot meer gereelde urinering).

3. Droë mond of droë vel:

Uitdroging kan jou mond soos ’n woestyn laat voel en jou vel styf of jeukerig laat voel. 

4. Moegheid of swakheid:

Uiterste swakheid, lusteloosheid of slaperigheid kan tekens wees dat u bloedsuiker nie klop nie. Dit kan duiseligheid veroorsaak – of selfs ’n floute veroorsaak – as u bloedsuiker gevaarlik hoog of laag word. Sommige mense word so swak dat hulle hul bewussyn verloor en nie weer in staat is om hul bewussyn te herwin nie. Dit word soms as ’n diabetiese koma beskryf en kan ’n lewensgevaarlike komplikasie wees.

5. Verhoogde eetlus of onverklaarbare gewigsverlies:

As die liggaam nie genoeg energie kan kry om die suiker in die voedsel wat u eet, te verwerk nie, kan u ’n ongewone toename in u eetlus of selfs skielike en onverklaarbare gewigsverlies waarneem.

6. Vrugtige of soet-ruikende asem:

As die liggaam oortollige suiker probeer uitskakel, kan dit u asem soet laat ruik as gevolg van hoë ketone.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article