Die Wildernis-soek-en-redding-geselskap (WSAR) het Donderdag 30 Maart op ’n noodoproep naby Ceres gereageer waarby ’n swanger vrou en ’n tienerseun betrokke was.Foto: Tim Lundy


’n Groep stappers, insluitend ’n swanger vrou en ’n tienerseun, is verlede Donderdagoggend (30 Maart) naby ’n bergreeks in Ceres deur die Wildernis-soek-en-redding (WSAR), ’n organisasie sonder winsoogmerk, gered.

Die agt stappers wat die Witelsrivierkloof-staptog (’n vier tot vyf dae staproete) aangepak het, is veilig. Twee stappers het egter beserings opgedoen.

Netwerk24 het berig die swanger vrou, wat van Plettenbergbaai af kom, het op 26 weke geboorte aan haar seun gegee. Volgens dié berig het die vrou die Woensdag in kraam gegaan nadat sy kraampyne ontwikkel het. Met die aankoms van die reddingspersoneel was die baba reeds oorlede en in die vrou se baadjie toegedraai.

Luidens WSAR se Facebook-blad is die stappers uit die Witelsrivierkloof gered nadat groot hoeveelhede reën die rivierkloof tussen Worcester en Ceres oorstroom het.

Die groep het verlede Maandag (27 Maart) met die staptog begin, waar een van die stappers, ’n man, Woensdag uit die kloof en oor die berg na Ceres gestap het om hulp te ontbied. ’n Boer in die omgewing het hom gehelp en die reddingsdienste gekontak, het David Nel van die WSAR aan Standard bevestig.

Die WSAR is Donderdag om 06:00 ontbied en is na die Winterberg Mountain Inn naby die roete se eindpunt gestuur.

’n Span van die Wes-Kaapse departement van gesondheid se EMS / Air Mercy Service (AMS)-reddingshelikopter het ook na die toneel gevlieg om die gestrande stappers in die kloof op te spoor.

Die reddingspan het die groep van ses stappers, nadat een stapper teruggedraai en die ander reeds weg was om hulp te ontbied, kort ná 10:00 opgespoor.

Al ses stappers en hul toerusting is in die helikopter opgehys en na ’n landingsone by die Winterberg Mountain Inn and Harvest Table Bistro gevlieg.

Een vroulike stapper is hospitaal toe geneem en die voorval is om 13:50 op dieselfde dag afgehandel.

Volgens Nel is die stappers op hul tweede dag in die kloof gered nadat die roete reeds weens die swaar reën gesluit was.

Ná die vorige redding van agt gestrande stappers op dieselfde roete op 26 Maart is ’n gesamentlike besluit ná konsultasie tussen sleutelbelanghebbendes geneem om die kloof tydelik te sluit.

Die roete is tradisioneel in die winterreënseisoen van 1 April tot 1 November gesluit.

Nel het gesê beplanning vir enige staproete is belangrik, en dit sluit in om weerpatrone dop te hou asook om die omgewing waarin die staptog plaasvind, te leer ken.

Nog ’n voorsorgmaatreël is om familie en vriende te laat weet wanneer ’n staproete aangepak word en seker te maak almal het al die noodnommers byderhand. . Bel die WSAR by 021 937 0300 om in ’n noodgeval te help.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article