Shimmy en haar ma, Frieda, wat die reeks Mince jou hare geïnspireer het.


Dis nie aldag dat jou dogter ’n televisiereeks geïnspireer deur jou lewe aan jou opdra nie.

Maar dit is gewis wat Frieda Baartman (60) se dogter, Shimmy Isaacs, gedoen het. Isaacs, ’n bekende akteur en komediant, het onlangs die televisiereeks bekendgestel, wat op haar ma se lewe as ’n haarkapper gegrond is. Die reeks, Mince jou hare, het onlangs op Showmax begin.

“Ek was so geskok toe die kind vir my sê sy gaan ’n show skryf oor my. Maar ek het ook goed gevoel. Ek sê mos altyd, gee vir my nou die blomme, terwyl ek lewe, nie wanneer ek eendag onder die grond lê nie. En nou die aand toe ek gaan lê, dink ek by myself, is dit nou die blomme wat die kind vir my gee?” verduidelik ’n baie bedeesde Frieda oor die telefoon.

Frieda het al op skool verlief geraak op hare doen.

“Die hare-doen-gogga het my al op skool gebyt. Ek was verskriklik lief vir hare doen. Ná skool het ek in ’n fabriek gaan werk en steeds saans en naweke hare gedoen. Ek het egter vinnig besef dit wat ek in die fabriek doen, was nie my passie nie. Dis toe ek die salon by my huis oopgemaak het.”

Tuisbly

Sy meen ook die tyd wat sy van die huis af gewerk het, was van die beste tye in haar lewe.

“Ek het vir jare van die huis af gewerk voordat ek die salon in ’n ander gebou geopen het. Maar daai jare by die huis was die bestes. Ons het regtig lekker tye gehad. In voorbereiding vir die televisiereeks het Shimmy baie vrae gevra, maar omdat sy die oudste was, het sy ook self baie dinge gesien en ervaar. Ek sê altyd – my kind is half deur my kliënte ook grootgemaak.”

Sy verduidelik verder dat haar salon ’n plek van veiligheid vir vroue was.

“Ons het almal saam gehuil, gelag, op mekaar se skouers vertroosting gevind, saam gebid en saam gesels. My plek was ook ’n veilige hawe vir gebroke vroue. Jy kon hóé stukkend daar by my aangekom het, maar daar was min wat ’n goeie sessie in die haarsalon nie beter kon maak nie. Ek dink dis hoekom Shimmy besluit het om daaroor te skryf.”

Frieda het haar salon egter in 2020 gesluit en by die hospies begin werk.

“Die skelms het by my salon ingebreek en daardie selfde dag het hospies laat weet dat daar ’n pos beskikbaar is.

“Ek het lank gelede ’n belofte aan die Here gemaak dat ek die laaste jare van my lewe daaraan sal wy om na sy engele op aarde om te sien. Ek het besef ek kan nie teen die Here se wil gaan nie.

“En nou doen ek steeds hare, maar my kliënte is die mense by tehuise en pasiënte van die hospies.”

Dié trotse ma het spesiaal verlof gevat om na Mince jou hare te kyk.

“Maar het ek nie gelag nie! Ek het dit verskriklik baie geniet. Ek dink toe, hier sien ek nou myself. Was ek regtig so streng? Ek het dit geniet.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article