‘n Ma van Rawsonville het brandwonde opgedoen en ‘n branddood vrygespring toe die informele woonstruktuur waarin sy en haar kêrel geslaap het, die afgelope Sondagoggend (2 Augustus) vroeg in ‘n brand verwoes is.
Elzaan Ruiters (31) van die Nakatabos- informele nedersetting in Rawsonville het al haar besittings in die brand verloor. Haar twee kinders, Nicky (12) en Ashlyn (9), het ook hul skoolklere in die brand verloor.
Die kinders het ten tyde van die brand by ‘n ander familielid oorgeslaap.
Elzaan se ma, Elsie Ruiters (53) en ‘n buurvrou het ook al hul besittings verloor toe die verwoestende brand na hul informele woonstrukture versprei het.
Elzaan het aan Standard Breederivier Gazette gesê haar kêrel, James Williams (28), het haar Sondagoggend omstreeks 04:00 wakker gemaak om te sê hul woning is aan die brand.
Toe sy wakker word, het die vlamme reeds haar hare geskroei.
Elzaan het gesê die vlamme was so erg dat Williams nie die voordeur kon bereik nie. Volgens haar het sy ‘n brandwond agter haar linkerskouer opgedoen toe sy ook nader aan die voordeur beweeg het.
Volgens haar het haar oudste broer, Celester Olyn (34), wat in die omgewing was en die vlamme gesien het, ‘n groot sinkplaat uit die woonstruktuur geruk waardeur sy en Williams kon ontsnap.
Elzaan sê kort voordat Williams en haar broer haar by die betrokke opening uitgewurm het, is haar gesig ook gebrand.
Volgens Elzaan het sy baie gehuil toe sy uiteindelik gered is. Haar nagmerrie het egter nie daar geëindig nie.

Sy het vertel toe sy uiteindelik na veiligheid gebring is, het sy gesien dat die brand na haar ma en ‘n buurvrou se huis versprei het.
“Ek het aan my ma se voordeur gehamer. Toe die deur oopgaan, het my ma se kop begin draai. Haar man het haar toe na buite gestoot voordat die vlamme haar kon beetkry.”
Elzaan het gesê sy vermoed die brand het ontstaan toe iemand agter haar woonstruktuur ‘n vuur gemaak en ‘n kombers toe in die proses aan die brand geslaan het.
Niemand anders is beseer nie.
• Die polisie het teen druktyd nog nie op Standard Breederivier Gazette se navrae gereageer nie.





