Motorfietsryers het 'n fondsinsameling vir Lyndon van Wyk gehou om aan die wêreldkampioenskappe vir handfietsry deel te neem.
Motorfietsryers wat deelgeneem het aan die geldinsameling vir Lyndon van Wyk om internasionaal te gaan deelneem, kuier die afgelope naweek saam.

‘n Gestremde fietsryer van Worcester, Lyndon van Wyk, is teleurgesteld nadat hy nie die afgelope week aan die wêreldkampioenskap vir handfietsry in Italië kon deelneem nie.

Die 44-jarige Lyndon, ‘n speurder by die Worcester-polisie se moord-en-roof-eenheid, het in Februarie vanjaar gekwalifiseer om aan die wêreldkampioenskap vir handfietsry deel te neem nadat hy die titel as Suid-Afrikaanse kampioen agter sy naam geskryf het.

Hy het aan ‘n 22-km- en ‘n 55-km-tydren deelgeneem en silwer en goud in die H3-afdeling vir handfietsryers gewen. Danksy dié prestasie is hy genooi om van 1 tot 4 Mei aan die para-wêreldkampioenskap deel te neem.

“Ek was genoodsaak om te onttrek as gevolg van ‘n mediese toestand waarmee ek die laaste paar weke sukkel. Ek is geensins van plan om op te gee om my drome te bewaarheid nie,” sê hy.

Hy mik nou om aan die laaste ronde van die wêreldbeker se padwedren deel te neem, wat in Augustus in Ronse, België, plaasvind. “Ek glo ek sal dan ook beter voorbereid wees.”

Motorfietsongeluk

Van Wyk is verlam nadat hy ses jaar gelede in die Bainskloofpas in ‘n motorfietsongeluk was. Sy vriende en die gemeenskap van Worcester het ingekoop op sy droom om aan die wêreldkampioenskap deel te neem. Verskeie geld- insamelings is gehou om die nodige geld bymekaar te kry.

Die afgelope naweek het die Order of the Dragons-motorfietsklub ‘n geld-insameling gehou en van Worcester deur die mooie Slanghoek en Rawsonville gery en by Kleinplasie geëindig. Meer mense as wat hulle verwag het, het aan die geldinsameling deelgeneem, met motorfietsryers van die Macs Swellendam, Beavers, Solitudes, 69rs, The Clique Boland en Dogs of War wat saamgery het. Lyndon het ook vir die eerste keer sedert sy ongeluk die kans gehad om weer agterop ‘n motorfiets te ry.

As Suid-Afrikaanse kampioen het Lyndon het gekwalifiseer om aan die Wêreldkampioenskappe vir handfietsry deel te neem.
Lyndon van Wyk ná hy as Suid-Afrikaanse kampioen in die H3-kategorie vir fietspadrennde aangwys is.
Lyndon het gekwalifiseer om aan die Wêreldkampioenskappe vir handfietsry deel te neem.
Lyndon van Wyk ná hy as Suid-Afrikaanse kampioen in die H3-kategorie vir fietspadrennde aangwys is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article