Katriena Smit (68), ‘n vrou van Gouda wat vir langer as twee weke vermis was, se lyk is die afgelope Maandag (4 Augustus) gevind.

‘n Soektog na die vermiste Gouda-inwoner, Katriena Smit (68), wat meer as twee weke geduur het, het die afgelope Maandag (4 Augustus) tot ‘n hartseer einde gekom toe haar lyk in ‘n beboste gebied naby ‘n waterkanaal in die ooste van Gouda gevind is.

Haar lyk was reeds aan die ontbind, het ‘n inwoner wat sedert 18 Julie met die soektog gehelp het, aan Paarl Post vertel.

Volgens Jonathan April, wat die dorp se inwoners gemobiliseer het om te help soek, het hulle Maandagmiddag kort ná 15:00 op haar lyk afgekom.

“Die vermoede is dat sy dalk oor ‘n hei­ning probeer klim en moontlik geval het. Haar een skoen was van haar voet af en haar sokkie het aan die heining se draad gehang.

“Haar liggaam was reeds aan die ontbind. Dit het ook gelyk asof een of ander gedierte aan haar voet begin vreet het.

“Ons vermoed dat sy al in die vroeë dae van haar verdwyning gesterf het. Dit is hartseer, want dit was koud en het baie gereën in daardie eerste dae nadat sy as vermis aangemeld is,” sê April.

Paarl Post het die afgelope twee weke oor Smit se verdwyning berig.

Die polisie se honde- en duikeenhede is in ‘n stadium as deel van die soektog ingespan.

Volgens haar familie het sy vermoedelik Alzheimer se siekte gehad en Donderdag (17 Julie) op pad huis toe verdwaal.

Volgens Lee-Ann Smit, haar dogter, het haar ma, stiefpa en hul kleinkind daardie Donderdag huis toe gestap.

Die een oomblik het haar ma nog agter gestap en toe haar stiefpa weer omkyk, was sy weg.

“My stiefpa het toe hier by die huis kom vertel dat hy nou nie weet wat van haar geword het nie.

“Ons het toe dadelik na haar gaan soek. Toe dit Donderdagaand (17 Julie) begin donker raak, was ons regtig bekommerd.

“Ons het deur die nag na haar gesoek. Daar was mense wat gesê het hulle het haar naby die vleilande by die waterblommetjies gesien. Dis toe waar ons daardie nag gaan soek het,” het tant Katriena se dogter by ‘n vorige navraag vertel.

Leidrade het hulle gelei tot by vleilande aan die buitekant van die dorp nadat inwoners glo gesien het hoe sy oor ‘n laagwaterbrug stap.

Daar was ook in ‘n stadium bewerings dat sy in ‘n voertuig met ‘n CK-registrasie (Malmesbury) geklim het.

Die polisie het gesukkel om dié inligting op te volg nadat die ooggetuies geen verdere beskrywing van die voertuig of registrasienommer kon gee nie.

Die polisie en gemeenskapslede het die afgelope twee weke die beboste landelike gebied aan die ooste van Gouda gefynkam.

Volgens Smith se dogter ly haar ma vermoedelik aan Alzheimer se siekte, maar is dit nooit deur ‘n dokter by haar gediagnoseer nie.

“Die laaste tyd was sy baie deurmekaar. Sy het gepraat van mense uit haar grootwordjare daar in Porterville. Mense wat ons nie ken nie.

“Sy het na hulle gesoek en ons het toe later uitgevind dat baie van die mense van wie sy praat lankal oorlede is.

“Sy is glad nie iemand wat ronddwaal nie. So ons vermoede is dat sy moontlik deurmekaar is en dalk iewers is sonder dat sy weet haar familie soek haar. Ons wense is dat ons haar veilig sal vind,” het Smit voorheen gesê.

Paarl Post verstaan dat tant Katriena se man nog in die Porterville-hospitaal herstel nadat hy op die eerste aand van die soektog op 17 Julie sy been beseer het.

Volgens April gaan dit waarskynlik moeilik wees vir die familie om die nuus met hom te deel.

“Hy het uit die hospitaal uit gereeld gevra hoe dit met die soektog gaan en ook aangedui waar daar moontlik gesoek kan word,” vertel April.

Die Tulbagh-polisiekantoor, waaronder Gouda val, kon nie by navraag vir kommentaar bereik word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article