Wyle Hannelie Melouw op haar troudag.

Credit: SYSTEM

“Ek het altyd geweet sy het ’n impak op die mense van Worcester gemaak, maar ek het nooit besef hoe geweldig dit is voordat ek gesien het hoeveel ondersteuning ons kry van die mense hier in en om Worcester nie.”

Só sê Ettienne Geldenhuys, wyle Hannelie Melouw se broer.

Worcester het op 3 Mei ’n uiters geliefde en gewilde vrou verloor toe Hannelie, wat lupus gehad het, oorlede is. Haar naasbestaandes beskryf hul reaksie as “stukkend, geskok en sprakeloos”.

“Ek onthou toe sy in die hospitaal was en haar man Paasmaandag daaraan herinner het om die kinders kerk toe te neem. Dis hoe Godvresend sy was,” sê Geldenhuys.

Die impak van Melouw se sterfte op Worcester sal altyd in die harte van baie Worcesteriete bly.

“Dis moeilik om te aanvaar. Ek kan dit nie glo nie. Ek wou soms die pyn verlig, maar ek kon nie,” sê Ednickson Melouw, Hannelie se man.

Hannelie het in sekere goed nooit belanggestel nie, maar wanneer Ednickson belangstelling daarin getoon het, het sy navorsing daaroor gaan doen sodat hulle oor die onderwerp kon praat.

Mense is dit eens dat dit die rede is waarom sy so ’n groot uitwerking op ander gehad het – sy het die belange van ander eerste gestel. Sy was daar vir haar medemens; eie in haar soort.

Haar ma, Jacqueline Geldenhuys, sê dit voel of ’n stuk vleis uit haar geruk is.

Volgens haar skoonouers is dit moeilik om haar te beskryf.

Ednickson het die mense van Worcester vir die liefde wat die familie sedert haar dood ontvang, bedank.

Benewens haar man, ma en skoonouers, laat Hannelie ook haar seuntjie Edzeaqan, babaseuntjie Edzion en haar broers, Ettienne en Charlton Geldenhuys, agter.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article