Leighton en Heidi Goliath van Riverview se agt maande oue baba, Hay-Leigh, is op 14 Junie by die Miracle Day Care dagsorg in Worcester oorlede nadat sy in haar slaap ophou asem haal het.
Hay-Leigh se dood het heelwat opslae gemaak in die dorp, veral nadat daar ook ’n protes voor die dagsorg op 6 Julie gehou is met die doel om ’n memorandum aan die eienaar te oorhandig.
Wilna Brand is die eienaar van die dagsorg, wat reeds agt jaar oop is en omsien na sowat 95 kinders tussen die ouderdomme van agt maande en drie jaar.
Sy het verduidelik die familie haar in ’n poniekoerant van nalatigheid beskuldig het, en beweer het dat sy nie na Hay-Leigh omgesien het nie.
Nietemin, volgens Brand is dié bewerings in die koerant onwaar, wat bewys kan word deur die nadoodse ondersoek waarvoor sy gewag het voordat sy kommentaar sou lewer.
Die ondersoekverslag is op 7 Julie deur die Worcester-polisie uitgereik.
Volgens die verslag is Hay-Leigh oorlede aan ’n virale longinfeksie met geen vaste- of vloeistowwe sigbaar in haar longe nie.
“Hay-Leigh het vroeg die oggend ingekom, sy was huilerig, en het net ná 08:00 aan die slaap geraak en toe later weer wakker geword en gespeel.
“Toe rondom 09:55 het sy buierig geraak en wou weer slaap,” het Brand verduidelik.
Om 11:15 het die onderwyser vir Hay-Leigh wakker gemaak, waarna sy haar opgetel het, en agtergekom sy “voel pap” en word nie wakker nie.
Die polisie en nooddienste is dadelik ontbied en het teen 12:05 by die dagsorg aangekom waar hulle vir Hay-Leigh dood verklaar het.
AO Vathiswa Jacobs, woordvoerder van die Worcester-polisie, het dié tye bevestig.
Volgens Brand het Hay-Leigh se ouers die volgende dag (15 Junie) die dagsorg besoek en haar bedank dat hulle na Hay-Leigh gekyk het, en geen besware aangeteken nie.
Hulle het egter in die poniekoerant se artikel hul misnoeë teenoor Brand uitgespreek.
Brand het verduidelik die plaaslike polisiekantoor het die video-materiaal van die dagsorg bekom en ook aan die Goliath-gesin gewys, wat bewys het dat daar geen kwaadwilligheid was nie en Brand se verduideliking bevestig.
Jacobs het ook hierdie feit per e-pos aan Standard bevestig.
Volgens Brand het die dagsorg reeds in Maart vir Hay-Leigh se ouers ingelig oor ’n loopneus en hoes, waarna haar gesin haar dokter toe gevat en ná twee dae teruggestuur het na die dagsorg, maar nie die dagsorg oor die diagnose ingelig nie.
Twee weke voor haar dood het Hay-Leigh se simptome immers dieselfde gebly, waaroor die dagsorg nie die familie ingelig het nie omdat haar ouers daarvan geweet het, en haar dagsorg toe gestuur het met ’n hoesstroop.
In 2017 is ’n vier maande oue baba oorlede by Miracle Day Care- dagsorgsentrum weens dubbele longontsteking nadat die baba uit die hospitaal gekom het, maar die dagsorg is toe van enige nalatigheid vrygespreek en die ouers van die oorlede baba het geen konflik met Brand daaroor gehad nie.
Standard het uitgereik na die Goliath-familie, wat gesê het dat Hay-Leigh wel vir twee dae by die huis gebly en antibiotika van die dokter ontvang het waaroor hulle die dagsorg ingelig het.
Volgens Heidi was daar geen tekens dat haar dogter op 14 Junie siek was nie.
“Die onderwyser [van Miracle Day Care] het net aan ons genoem, ná die voorval, dat sy [Hay-Leigh] vir die vyf ure wat sy daar was daardie oggend [op 14 Junie], nie wou eet nie, ook nie bottel drink nie, en dat sy haar slaapgemaak het, en haar op haar magie gelê het.”
“Ons [Hay-Leigh se ouers] het nog die vorige aand video’s geneem en as ek daarna kyk, kan ons dit nie glo dat dit gebeur het nie,” volgens Heidi.




