‘n Gesin van Worcester is in geweldige skok na hul driejarige dogtertjie verlede week onverwags aan leukemie oorlede is.

Leukemie, ‘n tipe bloedkanker wat verskeie dele van die lyf aantas, is eers op die dag van afsterwe by die jongeling gediagnoseer.

Ava Faith Conradie (3) was ‘n doodgewone kleuter wat lief was vir speel met haar maats. Sy was verlede week Dinsdag (2 Augustus) nog by haar dagsorg in Esselenpark, ‘n dag voor sy aan dié siekte beswyk het.

“Sy was ‘n woelwater gewees. Sy was elke oggend eerste hier. Sy was die eerste gesiggie wat ek soggens gesien het. Sy sou inkom en dan dadelik haar skoene uitskop en dan het sy op haar toontjies geloop. Dinsdag was sy nog hier en min het ek geweet dit sou die laaste keer wees wat ons haar sien.” vertel Esselenpark-dagsorg se prinsipaal, Rosslyn Snyders aan Standard.

Ava se ouers, Jo-aan en Elrick, is nog geweldig geskok oor die skielike afsterwe en sê dat hulle ook nie bewus was dat Ava so ernstig siek was nie.

“Haar neus het nou en dan gebloei. Die dokter het dit toe behandel en dit was die einde. In die laaste week van Julie was sy ook siek met maagprobleme, maar verlede week het alles verander. Ek kan nie glo sy is net weg nie. Hoe gebeur dit net alles so vinnig?”

Ek kan nie glo sy is net weg nie. Hoe gebeur dit net alles so vinnig?

Hulle vertel hoe sy Dinsdag siek gevoel het en gekla het van spierpyne. Sy is Woensdag vir behandeling hospitaal toe geneem, maar is ten spyte van hulp wat verleen is daar in die hospitaal oorlede.

“Netso. Skielik. Dit is ‘n groot skok. Ons het nie woorde nie. Sy was dan so uitgesproke en aktief – nes enige ander driejarige,” vertel Snyders verder.

Die dagsorg hou Dinsdag (9 Augustus) ‘n roudiens en gaan die plek versier met oranje – die kleur vir bewusmaking van hierdie siekte.

Haar onderwysers en maats vertel dat daar ‘n groot leemte is by die dagsorg, maar dat hul haar altyd sal onthou vir haar glimlag en mooi maniere.

Medelye het ook ingestroom op sosiale media en almal getuig van dié mooi driejarige wat haar kort stryd so skielik verloor het.

Ava sal op Saterdag, 13 Augustus in Worcester begrawe word. Enigiemand wat bereid is om betrokke te raak om haar nagedagtenis te vier kan die dagsorg kontak by 076 145 3544.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article