’n Stuk spoorwegerfenis wat byna as skrootmetaal verlore geraak het, is danksy ’n toegewyde span gemeenskapslede tot sy vorige glorie herstel. Die miniatuur-stoomlokomotief “Alet”, wat in 1977 vir Touwsrivier se eeufees gebou is, staan nou trots langs haar “ma” – een van die laaste twee Klas 23-stoomlokomotiewe in Suid-Afrika – in die historiese Gideon Joubertpark.

Die reddingsoperasie is gelei deur Christiaan du Plessis, die voorsitter van Touwsrivier Toerisme, nadat die lokomotief vir 47 jaar by die ou Touwsrivier Ontspanningsklub verwaarloos is. “Ons het besef as ons nie nou optree nie, sou Alet stuk vir stuk as skrootmetaal verdwyn het,” sê Du Plessis.

Die lokomotief, wat spesiaal vir die dorp se 100-jarige viering in 1977 gebou is, was oorspronklik ’n indrukwekkende gesig. Hoewel dit nie self kon ry nie, kon dit rook maak wanneer steenkool in die vuurkas brand – ’n groot aantrek­kings­krag tydens die destydse eeufeesvie­ringe.

Die restourasieproses was geen geringe taak nie. Die lokomotief moes in dele gesny word om dit te kon verskuif, aangesien dit te groot was om as een stuk te vervoer. ’n Span toegewyde gemeenskapslede het aan die projek gewerk – elkeen met sy eie spesialiteit.

Willie Marais, ’n veteraan van die spoorweë, het die lokomotief se neus herbou en ’n nuwe lig geskenk.

Clarence Thomas was verantwoordelik vir die maak van nuwe nommerplate en die outentieke SAS-SAR-letters.

Jason Prins het ’n spesiale platform gebou om die lokomotief op ballastklip te monteer.

Du Plessis self het ’n nuwe metaal-steenkooltenderwaentjie gebou en voorwiele uit Pietermaritzburg bekom.

Die lokomotief se nuwe tuiste by Gideon Joubertpark is veral betekenisvol. Hier staan dit nou langs een van slegs twee oorblywende Klas 23-stoomlokomotiewe in die land. Hierdie groter lokomotiewe, waarvan 136 voor die Tweede Wêreldoorlog ingevoer is, was die grootste van die 4-8-2-Bergstoom-lokomotiewe wat deur die destydse Spoorweë gebruik is.

“Dit is ’n merkwaardige transformasie,” sê Du Plessis – “van ’n verwaarloosde stuk yster tot ’n blink gemeenskapsjuweel wat nou weer die verbeelding van jonk en oud aangryp.”

Die projek beklemtoon die belangrik­heid van gemeenskapsamewerking in die bewaring van erfenis. Touwsrivier Toe­risme nooi alle belangstellendes – veral gesinne met kinders – om die geres­tou­reerde Alet by Gideon Joubertpark in Janestraat 50, Touwsri­vier, te kom besigtig.

“Hierdie is meer as net die herstel van ’n ou lokomotief,” voeg Du Plessis by. “Dit is die herstel van ’n stuk gemeenskapserfenis wat nou weer kan dien as ’n bron van trots vir ons dorp.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article