As jy graag jou geliefde Dinsdag op Valentynsdag met ’n tuisgemaakte lekkerny wil bederf maar lomp voel in die kombuis, deel Karla Janse van Vuuren ’n resep waarvoor jy nie eens die oond hoef aan te skakel nie.
As jou geliefde se hart vinniger klop aan die blote gedagte van grondboontjiebotter, moet jy dié resep beproef. Die pretzels gee ’n lekker bros byt aan die blokkies en die sout breek die ergste soet.
Maak sowat 30 blokkies
Jy het nodig:
2½ k gladde grondboontjiebotter
180 g botter, teen kamertemperatuur
2 k versiersuiker
4 k pretzels, in stukkies gebreek
1½ k sjokoladesplinters
Só maak ’n mens:
1. Voer ’n 20×30 cm-bak uit met foelie en bespuit liggies met kleefwerende kossproei.
2. Meng 2 koppies van die grondboontjiebotter en die botter saam tot glad (jy kan ’n elektriese handklitser of ’n ballonklitser gebruik).
3. Klits die suiker bietjies-bietjies by tot glad.
4. Roer 3 koppies van die pretzels by en meng deeglik.
5. Druk die mengsel deeglik in die voorbereide pan vas en maak so glad moontlik bo-op.
6. Plaas die res van die grondboontjiebotter en die sjokoladesplinters in ’n mikrogolfbestande bak en mikrogolf vir 30 sekondes op ’n keer tot gesmelt. Roer tot glad.
7. Giet die gesmelte sjokolademengsel oor die grondboontjiemengsel in die bak en maak glad bo-op. Sprinkel die res van die pretzelstukkies bo-oor.
Plaas vir minstens 3 uur in die yskas en sny dan in blokkies. Bêre in ’n lugdigte houer in die yskas vir tot vyf dae.
Valentynswenk: Pak die blokkies in ’n mooi geskenkboksie wat met waspapier uitgevoer is. Bind ’n rooi lint om en siedaar, ’n geskenk vir jou grondboontjiebotter-verslaafde! – Netwerk24


