Dit is ’n voorreg om deel te kan wees van ander mense se kreatiewe reise. Soms het iemand net aanmoediging nodig om hierdie fassinerende deel van hul lewe te ontwikkel.
Lilka Sander het laat weet dat sy ook wil verf. DoofBlindheid en ander gestremdhede het haar nog nooit teruggehou van heerlike lewenservarings nie. By haar eerste kunsklas het ek verduidelik van verskillende soorte verf en kwaste en skilderdoeke en papieroppervlaktes, tekstuur, vorm en so meer.
Aanvanklik sou ek nie veel oor kleur uitbrei wanneer ’n Blinde/swaksiende of DoofBlinde nuut by die klas inskakel nie.
Daar is ek egter gou tereggewys dat siggestremdes net soveel aanspraak maak op erkenning en meelewing van kleure soos enigiemand anders. Dit is maar net een van die uitsonderlike aspekte van die binnewêreld van gestremde mense.
Ek het ook verduidelik dat ons eerder waterbasis-verf gebruik. Makliker om skoon te maak ná die tyd. Nie net die kwaste nie, maar ook gesigte en arms, voete, ens.
Dit gaan jolig in die kunsklas. Selfs uitspattig by tye. Dat sy miskien eers op papier wil oefen. Maar Lilka het besliste idees gehad oor haar kreatiwiteit en hoe sy dit uitleef. Net gevra dat ek twee kleure verf in aparte houers uitgooi, pienk by haar linkerhand en groen by haar regterhand.
Nadat ek ’n draai by die ander studente gemaak het, sien ek dat Lilka rustig besig was om die mees sensitiewe merke op papier te maak. Met haar vingerpunte. Saggies en teer.
Sy doop haar hande in die verfpotte en gebruik haar vingers en handpalms in die plek van kwaste. Reeds by haar tweede klas het sy gevra om eerder op skilderdoek te werk; sy verkies die ietwat growwer tekstuur daarvan.
Al wat ek moes doen was om die verf in die houers aan te vul en miskien raad te gee oor ’n spesifieke komposisie wat sy beplan of meer eweredige kleuraanwending. En volgehoue ondersteuning.
Sy het gewoonlik eers die volledige oppervlak van die skilderdoek met verf bedek en daarna geleidelik en tydsaam detail aangebring. Landskappe en abstraksie is haar gunsteling- onderwerpe.
Die mooiste vermenging van kleure gebeur spontaan wanneer sy met albei hande vol verf op een deel van die oppervlak konsentreer; nooit te min of te veel nie.
Haar prente het vanself begin dans. Lilka weet instinktief wat om met verf te doen. Tegnieke wat gesoute kunstenaars jare lank neem om te bemeester het sy gemaklik en sonder om veel daaroor te dink, laat gebeur. DoofBlindheid hou haar nie terug nie; dit maak eerder haar tas-sin net meer intens en sensitief.
Die ondertekening van haar kunswerke was altyd ’n hoogtepunt. Ek sou haar hand vashou en liggies navigeer terwyl sy haar naam met trots neerskryf: Lily.
Lilka het intussen Johannesburg toe verhuis. Sy stuur gereeld foto’s van haar nuwe skilderye. Pragtig, soos altyd. Dankie, Lilka. Vir die wonderlike mens wat jy is. En vir groot inspirasie.
. Ryno Eksteen is ’n administratiewe beampte by DBSA se Wes-Kaapse kantoor en ’n ook ’n vryskut- professionele kunstenaar in Worcester.



