Beatrice Manuel (55) se moordenaars is op Donderdag 25 Augustus in Worcester gevonnis.


Die drie mans wat Beatrice Manuel (55) in 2019 in ’n rooftog in Worcester doodgeskiet het, is tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Hulle is Donderdag 25 Augustus in die rondgaande hof in Worcester tronk toe gestuur.

Bongani Dlongwana, Lulamile Sikhepu en Xolisa Mtyobile is in 2019 in hegtenis geneem nadat hulle Manuel, ’n bestuurder van die Shoprite-tak in Zwelethemba, koelbloedig vermoor en met gesteelde goedere gevlug het. Manuel het 35 jaar vir die Shoprite-groep gewerk.

Die slagoffer is op Sondag 2 Junie 2019 deur die drie mans oorval net nadat sy en ander kollegas die winkel oopgesluit het.

Luidens die hofstukke het elk van die beskuldigdes ’n vuurwapen gehad en Manuel gedwing om die winkel te sluit en na die kontantkantoor (kluis) te gaan.

Die staat het tydens die hofsaak aangevoer dat sy hier aangehou is en hardhandig deur die mans hanteer is, waarna sy in die kop geskiet is.

Die moordenaars het toe met R 10 569,40 kontant, sigarette ter waarde van van R9 823,14, ’n Nokia-selfoon en ’n Vodafone-selfoon gevlug.

Beatrice Manuel
Beatrice Manuel (55) se moordenaars is op Donderdag 25 Augustus in Worcester gevonnis.

Die staatsaanklaer, advokaat Ntsoaki Mabilitse, het verskeie getuies ter strafverswaring geroep.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het aan Standard bevestig dat die impakverslag onder andere ingesluit het watter effek haar dood op die gesin, die uitgebreide familie en die gemeenskap gehad het – finansieel, maar veral emosioneel.

Die NVG sê dié getuienis het ’n sterk impak op die saak gehad.

Die mans is aangekla van moord, roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit en gebruik van vuurwapens en ammunisie.

Regter Lister Gcinikhaya Nuku het Dlongwana vir die moord lewenslange tronkstraf opgelê en vir die roof het hy 15 jaar gekry. Hy is tot 15 jaar gevonnis vir die onwettige gebruik en besit van vuurwapens en het vyf jaar gekry vir die besit en gebruik van onwettige ammunisie.

Sikhepu en Mtyobile het ook elk ’n lewenslange vonnis gekry vir die moord en 15 jaar vir die roof. Hulle is elk tot 10 jaar en 5 jaar onderskeidelik vir die twee vuurwapenverwante klagte gevonnis.

Verteenwoordigers van die staat sê hulle is verheug om die saak te sluit en het alle belanghebbendes bedank vir hul bydrae tot die suksesvolle vonnisoplegging.

Worcester se stasiebevelvoerder, brigadier Mkhuseli Nkwitshi, het die speurspan geloof vir die uitmuntende werk wat hulle gedoen het. Leon van der Merwe, ’n regsverteenwoordiger vir die Shoprite-groep en Oswald Meiring, ’n bestuurslid van Shoprite, het aangedui dat hulle ook baie gelukkig is met die uitkoms van die saak en hulle sê die vonnis het ‘n duidelike boodskap aan ander misdadigers gestuur.

Standard het probeer uitreik na Manuel se naasbestaandes vir kommentaar, maar was onsuksesvol.

Een van haar vorige kollegas, Audrey Fielies, het aan Standard gesê dat sy verheug is oor die vonnis.

“Mens is bly as geregtigheid geskied, maar niks sal haar terugbring nie. Niks sal die seer beter maak nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article