Sy boeiende preke wat hy oor meer as vyf dekades aan gemeentes oor die land heen gelewer het, was so inspirerend en leersaam dat hy die bestes gekies en dit in ’n bundel vervat het.
Die bundel Die Skoolseun word die Predikant is ds. Jurie van Rooy van Worcester se derde publikasie.
Die bundel is Sondag 24 September amptelik bekendgestel.
Van Rooy – ’n boorling van Wupperthal – wat meer as 50 jaar in die bediening gestaan het, het die tuig eers vyf jaar gelede op die ouderdom van 75 jaar neergelê.
Sy bedieningsreis as leier van die destydse NG Sendingkerk het in Oos-Londen begin. Hierna het hy die preekstoel bestyg in onder meer Middelburg (Oos-Kaap), Willowmore en toe Oudtshoorn.
Van Rooy het op 1 Februarie 1994 by die Toevlug-rehabilitasiesentrum vir alkohol- en dwelmverslaafdes aangesluit.
Oor hoe dit gekom het dat Die Skoolseun word die Predikant die lig gesien het, sê Van Rooy mense het hom die laaste ruk gevra hy moet – voordat hy eendag die tydelike met die ewige verwissel – tog iets agterlaat wat al sy preke betref.
Volgens Van Rooy moes hy kies uit preke wat tot so ver as 1992 strek.
Hy sê die uitsoekproses was glad nie moeilik nie omdat dit gegrond is op die terugvoering wat hy oor die jare ontvang het.
Hy sê dit het hom sowat twee weke geneem om die preke vir die bundel te kies.
Van Rooy sê hy het oor die jare heen by verskeie mense verneem dit is moeilik om oor alkohol- en dwelm-afhanklikheid te preek.
Volgens hom fokus baie van die preke wat in die bundel vervat is, op alkohol- en dwelmafhanklikheid, wat ook die deurlopende tema in die bundel is.
Een van Van Rooy se gunsteling-preke wat ook in die bundel vervat is, is “Die Laaste Hofsaak”.
“Kyk, ons kry die duurste prokureurs en advokate om ons los te kry, maar by die laaste hofsaak moet elkeen self sy of haar eie saak behartig.”
“Weens die situasie waarin ons land hom tans bevind, het ek besluit om ‘Die Laaste Hofsaak’ by die bundel te voeg.”
Van Rooy sê al 25 eksemplare van die bundel is twee dae voor die amptelike bekendstelling verkoop.
“Kyk, preekbundels verkoop in die algemeen nie baie nie. Ek wou eers die waters toets om te kyk of dit gaan verkoop.”
Hy sê nog eksemplare is egter op pad.
Op die vraag of nóg ’n boek in die pyplyn is, sê Van Rooy: “Ek en wyle prof. G.D. Cloete het destyds met ’n dagstukkie-dagboek begin.
“Weens sy afsterwe kon ons dit nie voltooi nie. Ek het hom belowe ek sal dit klaarmaak.”
Van Rooy sê in dié boekie probeer hulle baie van die goed wat oor die jare heen deel van die mensdom se waardes geword het en wat verkeerd is, bespreek.
Hy verwys hier na onder meer hoogmoed en rykdom wat die Godsdiens verdring het . . . “al die goed wat in ons land skeefgeloop het”.
Volgens Van Rooy is 90% van die boekie reeds voltooi.
Diegene wat belangstel in ’n eksemplaar van Die Skoolseun word die Predikant kan Van Rooy by 072 098 7316 bel.




