Wyle Michyle Cederick PlaatjiesFoto:

Credit: SYSTEM Credit: SYSTEM

Gerugte dat klein Cederick se keel afgesny is, is onwaar.

Volgens ’n onberispelike bron met kennis van die saak is dit glad nie hoe die kleuter gesterf het nie.

Michyle Cederick Plaatjies het op 10 September vermis geraak terwyl hy saam met sy pa was. Vir 12 dae is na die vermiste kind gesoek totdat die polisie en honde-eenheid sy lyk op Vrydag 29 September op ’n plaas in die Agterkliphoogte-omgewing in Robertson opgespoor het.

“Die eienaar van die plaas het glo gesê hy was die Donderdag in die omgewing waar hulle die kind se lyk gekry het, maar het niks gesien nie,” verduidelik die oorlede kleuter se oom, Wayne Absalon.

Hy het ook bevestig dat sy keel nie afgesny was nie. Die kind se ma, Elzaan Plaatjies (24), was self ook op die toneel.

“Ek weet nie waar die mense hieraan kom nie. Selfs die kind se ma, wat op die toneel was nadat hy gevind is, weet nie waar die mense aan hierdie gerugte kom nie.”

Absalon sê ook dit is steeds vir die familie ’n moeilike tyd en dat almal nog in rou gedompel is.

“Dit gaan maar so-so. Almal is baie hartseer. Ek was Saterdag by sy ma gewees en sy het nog baie gehuil, as daar mense na haar toe gekom het, dan het sy weer begin huil. Dit was haar eerste kind. Ons weet nog nie wanneer die begrafnis gaan wees nie.”

Dit is steeds onbekend hoe die seuntjie oorlede is. Standard het ’n navraag aan die provinsiale polisie gestuur waarin gevra word of ’n klag van moord by die kind se pa se bestaande klag van kinderverlating gevoeg gaan word en of die oorsaak van dood al bekend is.

“Neem asseblief kennis dat die saak waarna u verwys nog ondersoek word,” het sers. Wesley Twigg geantwoord.

Die kind se pa, Frederick Galant (23), het Dinsdag 3 Oktober in die hof verskyn waar ’n klag van moord by die bestaande klag van kinderverlating gevoeg is. Hy het glo borgtog prysgegee, maar behou sy reg om later die hof te nader vir ’n borgtogaansoek. Die staat gaan borgtog teenstaan. Die saak is uitgestel tot Dinsdag 24 Oktober vir verdere ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article