Op ‘n dag in standerd 1 (graad 3) was hy baie angstig. ‘n Soort van doodsheid het oor hom gekom. Dit het vir hom gevoel dit is sy laaste dag op aarde.
Dié jong seun, wat toe nege jaar oud was, het daardie dag vir die Here gesê: “U is die beskikker van die lewe en dood. Help my deur hierdie benoudheid en ek belowe vandag vir U ek sal in U diens staan en mense van U liefde en genade vertel.”
Ds. Jeffrey (Jeff) William Fransman (65) van die VGK Worcester Sentraal sê op daardie dag het hy die roeping gekry om hom as ‘n bediener van die Woord te bekwaam. In dieselfde jaar het hy vir hom ‘n Bybel gekoop, wat destyds 25 sent gekos het. Hy het vandag nog daardie Bybel.
Op 29 Junie vanjaar – ná altesaam 39 jaar in die bediening – het Fransman sy afskeidspreek in die VGK Worcester Sentraal gelewer. Hy het dié gemeente vir 28 jaar en 10 maande gelei.
“Met my afskeidspreek was die kerk stampvol en ek was dankbaar. Dit wys net mense het waardering vir wat ‘n mens doen. Iewers het ek iets reg gedoen.”
Die preek was gegrond op Eksodus 14:14: “Die Here sal vir julle stry, en julle moet stil wees.”
Fransman sê dié betrokke teksvers is sedert graad 3 sy uitgangspunt.
Fransman, oorspronklik van Worcester, was op laerskool by die Primêre Skool Riverview. Ná sy hoërskooljare aan die Hoërskool Esselenpark (vandag Esselenpark Senior Sekondêre Skool) is hy na die Universiteit Wes-Kaap (UWK) waar hy ‘n honneursgraad in teologie verwerf het.
Hy sê hy was nog op hoërskool toe sy oorlede oom Adam gereeld sy bakkie aan hom geleen het. Dan het hy Vrydag-
en Sondagmiddae soos ‘n wafferse predikant kerkdienste op plase gaan hou. Hy sê grappenderwys sy pa, wyle Jaftha Fransman, het baie keer oor dié bakkie-storie met oom Adam vasgesit.
Wyle prof. Daan Cloete het Fransman op 5 Julie 1986 bevestig en hy is met hande-oplegging ingeseën.
“My ma het daai tyd die toga vir my omgehang. Daardie toga is nou 39 jaar oud. Hoewel die Noord-Kaapse son hom baie geblyk het, het ek nog nooit gedink om dit te vervang nie.”
Volgens Fransman was sy intreepreek op 6 Julie 1986 by die destydse Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk (vandag die VGK) in Upington. Hy was vir vier en ‘n half jaar hoof van dié gemeente. In 1989 het hy met Leonie, ‘n nooi van Upington, in die huwelik getree. Saam het hulle ‘n seun, Jeffrey. Fransman is hierna na die VGK Marydale, sowat 70 km van Prieska. By die VGK Marydale het hy twee en ‘n half jaar gedien.
Fransman sê hy kon dit nie glo toe hy na die VGK Worcester Sentraal beroep is nie.
“Ek het gedink ek gaan nie lank in Worcester wees nie, maar ‘n ouderling, mnr. Henry Witbooi, het vir my gesê ‘kyk dominee, in hierdie gemeente tree ‘n mens met ‘n kierie af’. My voorganger, ds. Jegels, was 33 jaar hier. Ek het geweet ek gaan nie sy rekord breek nie, maar ek gaan naby dit kom.”
Fransman sê sy eerste preek in sy huidige kerk was in Augustus 1996.
“Daar was baie hoogtepunte in my loopbaan. Om gemeenteleraar te word, is ‘n gemeenteseën. Dit is ‘n hoogtepunt in ‘n mens se lewe. Dis ‘n blessing bo alle blessings dat my gemeente my so wonderlik oor die byna 29 jaar ondersteun het.”
Fransman het nie planne vir die toekoms nie. Hy glo die Here sal hom lei.
Ds. John Willemse van die VGK Worcester-Oos neem in sy plek waar totdat ‘n opvolger aangewys is. – Enrico Claassen





