Hubert George Johnson (60) gaan aan die einde van die skoolkwartaal aftree ná 26 jaar by Leipzig Primêre Skool buite Worcester waar sy loopbaan as skoolhoof reeds in 1997 begin het.
In hierdie 26 jaar het hy spesiale bande met die gemeenskap gebou, en was geliefd onder die kinders en hul ouers.
Johnson het in 1981 aan die Hoërskool Esselenpark in Worcester gematrikuleer, en dadelik in 1982 sy tersiêre opvoeding in onderwys voortgesit by die Athlone Opleidingskollege in die Paarl.
Daarna het hy sy derde jaar van studie in 1984 by Hewat Opleidingskollege voltooi, en sy vierde in 1985.
As jong man het hy as ’n onderwyser begin by Riverview Primêre skool in Worcester waar hy elf en ’n half jaar gewerk het.
Dié geliefde skoolhoof was ook ’n ywerige sportonderwyser, en het saam met die leerders vir Worcester op verskillende terreine verteenwoordig, in onder meer rugby, skaak, atletiek en krieket.
Hy was ook vir 13 jaar Boland-skaaksameroeper waarvoor hy die land saam met die leerders platgereis het.
Hy het by verskeie geleenthede opgetree as bestuurder van die Wes-Kaapse skaakspan.
Johnson het ook ’n BA-graad by die Universiteit van Wes-Kaapland in 1991 verwerf, en in 1994 sy diploma in teologie.
In 1996 het hy sy studies voortgesit, en ’n B Ed-graad aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf, en in 2013 ’n gevorderde diploma in leierskap, ook aan die US.
Buiten sy pos as onderwyser werk Johnson ook al 30 jaar by Brandvlei-gevangenis as ’n geestelike werker.
Volgens hom gaan hy sy “kollegas, leerders en ouers mis”.
Ná aftrede sal Johnson beslis meer tyd hê vir sy godsdiens – veral by sy twee gemeentes in Mitchell’s Plain, die Eastridge United- en Mitchell’s Plain United-kerke.
Hy is getroud met Esther Johnson, predikant van die Emmanuel Congregational kerk in Worcester.
Dié egpaar het drie dogters, twee skoonseuns en twee kleinseuns.





