Langerugskool het Maandag (9 Mei) hul splinternuwe e-biblioteek bekend gestel. Die projek is deur die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans gefinansier. Van links is Bea-Mari (spraakterapeut), Cecile de Villiers (skoolhoof) en Sandra Prinsloo (voorsitter van SBA).Foto: Phiwokuhle Mothemela


Langerugskool in Worcester is opgewonde oor sy nuwe elektroniese biblioteek, wat veral tot voordeel gaan strek van leerders met leeshindernisse.

Die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) het R30 000 aan die skool geskenk om dié e-biblioteek te begin. Die droom was om al die leerders hier toegang tot boeke en stories te gee. Die meeste kinders in Langerugskool kry tydens eksamens ’n leser of ’n skrywer of albei, omdat hul nie kan lees nie.

Die skool se biblioteek het tans net hardebandboeke wat vir die gewone kind leesgenot kan bring, maar vir kinders met leerhindernisse soos disleksie is enige leesaktiwiteit moeilik.

Met tegnologie kan teks op ander wyses vir alle leerders toeganklik word, byvoorbeeld deur oudioboeke, deur elektroniese lesers vir e-boeke en deur animasiestories. Hieruit is die idee vir die e-biblioteek gebore.

Met die skenking kon die skool vyf tablette en verskeie oudio- en e-boeke koop. Die SBA se nuwe animasiefilms sal ook op die tablette in die biblioteek beskikbaar wees.

Die SBA het ook die gr. 6-klas na die bekendstelling van hul animasiefilm Robbie die Rowwe Rot by die Artscape-teater genooi. Dit is ’n strokiesverhaal wat in ’n animasiefliek omgeskep is. Die animasierolprent kan op die SBA se webtuiste en Facebook-blad bereik word.

Die kinders is ook met kospakkies en ’n musiekoptrede bederf.

Die Afrikaanse Geletterdheidstrust is in 1992 gestig om spesifiek Afrikaanssprekendes in die Wes-Kaap te bemagtig, veral op die platteland. Die SBA is uit hierdie trust gestig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article