Die meisies van Jakes Gerwel Tegniese Skool staan nie terug om slaggate te vul nie. Inlas: Die leerders geniet dit om ’n nuwe vaardigheid aan te leer. Foto:


Van slaggate vul kan jy die leerders van Jakes Gerwel Tegniese Skool min leer.

Veertien van die skool se vaardigheidsleerders neem tans aan hierdie projek deel.

“Dit is vir hulle ’n opleidingsgeleentheid en ook ’n kans om nuwe vaardighede te leer,” sê die skoolhoof, Albert Mocke. “Hulle doen nie net die werk nie; in die proses leer hulle meer oor verskeie loopbane wat hulle kan volg.”

Die groep leerders, bestaande uit seuns en meisies, sê hulle geniet dit baie om deel van hierdie inisiatief te wees.

“Hulle geniet dit vreeslik baie. En hulle is so trots op wat hulle vir die gemeenskap kan doen, want dit is ook ’n manier waarop hulle in die gemeenskap kan terugploeg.

“Hulle werk hard en die meisies staan nie terug vir die harde werk nie.”

Hulle sluit aan by die kontrakteur wat deur die munisipaliteit aangestel is om die paaie in die Langeberg te herstel – gedurende die tye wanneer hulle gewoonlik vaardigheidsklasse op skool sou hê.

Die munisipaliteit verskaf ook al die veiligheidstoerusting en gereedskap wat die leerders moet gebruik.

Mocke sê die skool is baie trots op hierdie leerders.

“Ons is baie trots op hulle. Dit is iets groot wat hulle doen. Die munisipaliteit vertrou ons om te help en hulle sien ook waartoe die kinders in staat is. Dit skep ook geleenthede vir die kinders wanneer hulle eendag die skool verlaat. Dan beskik hulle reeds oor vaardighede wat hulle kan help om hul toekoms te bou.”

Die hoof sê ook ’n ander kontrakteur het ook al die skool gekontak sodat leerders met van sy projekte kan help.

“Dit dra nie direk by tot hul punte nie, maar ons gee hulle wel ’n verslag om vir hulle te sê wat hulle alles kan doen.”

Die Langeberg-munisipaliteit se webtuiste verduidelik die munisipaliteit het op 17 Oktober met induksie-opleiding begin en voorsien die leerders van veiligheidstoerusting.

“Ons is trots om deel te wees van hierdie innoverende gemeenskapsprojek, want dit bevoordeel die leerders en die gemeenskap.

“Ons waardeer die leerders se bystand, wat ongetwyfeld dienslewering sal bespoedig om die Bonnievale-slaggat-herstelprogram die hoof te bied,” sê Carel Posthumus, senior bestuurder vir siviele ingenieursdienste van die Langeberg-munisipaliteit, op die munisipaliteit se webtuiste.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article