Geraldeen Syfers (17), ’n graad 11-leerder van Worcester Sekondêre Skool wat in Rawsonville gewoon het, is Saterdag (3 Desember) tragies in ’n motorongeluk oorlede.
AO Vathiswa Jacobs, ’n polisiewoordvoerder, sê die ongeluk het om 17:10 naby die Hartebeest-plaas buite Rawsonville gebeur.
Jacobs sê ten tyde van die ongeluk het Geraldeen saam met haar kêrel, wat die bestuurder was, ’n 65-jarige man en ’n kind gery. Die ander insittendes in die motor is slegs lig beseer.
Volgens Levonia Syfers, Geraldeen se ma, was haar dogter en haar kêrel omstreeks 17:00 op pad na die Worcesterdam om langs die water te ontspan.
Die paartjie het op die ou N1-pad gery toe Geraldeen se kêrel na bewering beheer oor die voertuig verloor en dit gerol het, sê Levonia.
Jacobs het hierdie stelling bevestig en bygevoeg dat die motor in ’n sloot tot stilstand gekom het.
Geraldeen sou volgende jaar matriek toe gaan.
Levonia het gesê dat Geraldeen ’n geliefde leerder aan die Worcester Sekondêre Skool was en sy het baie vriende gehad.
“Geraldeen was ’n baie netjiese en voorbeeldige leerder. Sy was altyd vriendelik, gewoonlik met ’n glimlag op haar gesig, en ’n baie gedissiplineerde leerder wat altyd behulpsaam en bedagsaam was,” volgens Gwenita Lottering, Geraldeen se toerisme- onderwyser.
Geraldeen se diens vind Sondag by die Verenigende Gereformeerde kerk (VGK) in Rawsonville plaas.




