Die Worcester-fotografieklub het onlangs weer ’n baie suksesvolle en interessante maandsvergadering gehad.
Die wenfoto vir April was Loving hands, ’n inskrywing van Lin Adshade.
April se beoordelaar was Phillip de Lange, ’n kenner van fotografie met meer as 30 jaar se ondervinding. Dit was ’n baie leersame aand met opbouende kritiek. Hy het met klublede gedeel hoe foto-beoordelaars oor die wêreld heen na foto’s kyk, wat hul beoordeling beïnvloed, waarop om te let en wat om te vermy.
De Lange het onder meer die vraag bespreek oor wat die verskil tussen ’n foto en ’n kiekie is?
’n Kiekie is ’n algemene term wat na enige visuele voorstelling kan verwys, onder meer iets wat met ’n kamera vasgevang word, maar net as verwysing na iets wat in die verlede gebeur het, terwyl ’n foto ’n spesifieke beeld is wat met ’n kamera vasgelê word.
Die agtergrond, waar en hoe die foto geneem word, is ’n beplande, bepalende faktor wat spesifiek beoefen en ingeoefen moet word– byvoorbeeld ’n gebeurtenis wat deur die fotograaf vasgevang word om ’n spesifieke storie te vertel.
Die klub kom weer Donderdag 9 Mei by die saal van Hooggelegen-aftreeoord bymekaar en die fototema vir Mei is “Refleksie/Reflection”.
Refleksie is ’n kuns wat fotograwe gebruik, of dalk misbruik, om hul foto’s te bevoordeel. Die kuns lê daarin om die waarnemer se asem weg te slaan, wat dan die sukses van die foto bepaal.
Kom kuier en kyk, lewer jou kommentaar of vra jou vrae en geniet die foto’s en bespreking saam met ons. Deur dit te doen, leer ons by mekaar. ’n Uitdaging is mos lekker.
Hierdie is ook ’n geleentheid om jou kreatiwiteit te ontwikkel of selfs te ontdek, en ook ’n geleentheid om jou ontdekkingsreis met ander te deel.
Tyd: 18:30 vir 19:00. Alle belangstellendes is welkom om die geleentheid by te woon. Bring jou rybewys vir toegang by die oord se hek en ’n beker vir koffie/tee (koffie en tee word voorsien.)
. Kontak Lin Adshade by 082 638 5624 vir meer inligting.





