Kom ek vertel julle iets! Dis met dié woorde dat Lee-Roy Arendorff sy Facebook-plasings begin om die mense in sy gemeenskap se stories te vertel. Sy plasings op Facebook, waar hy meer as 140 000 volgelinge het, deel in ‘n paar bondige sinne die stories van gewone mense wat deur swaar tye gaan.
Net onlangs vertel hy van ‘n man wat maande in ‘n hospitaal se waakeenheid moes deurbring nadat hy talle beenbreuke in ‘n motorongeluk opgedoen het, maar uiteindelik weer op sy eie kon asemhaal.
Hy vertel van ‘n vrou wat kanker drie keer oorwin het en van nog iemand wat op vierjarige ouderdom verkrag is en vyf jaar later so erg aangerand is dat sy in die hospitaal beland het. Dokters het geglo kinders gaan haar nie beskore wees nie, maar sy het drie kinders in die wêreld verwelkom. “Sy sê ek moet vir julle sê: What doesn’t kill you, makes you stronger!” was Arendorff se boodskap.
Hy vertel ook van die hartseer van ‘n ma wie se 14-jarige seun in die see verdwyn het.
Sy plasings eindig met “Kom ons wys hulle liefde!” waar hy sy Facebook-volgelinge aanmoedig om dié wat deur moeilike omstandighede gaan, te ondersteun.
Die 25-jarige Arendorff woon in McGregor en het glad nie voorsien sy plasings gaan só wyd swerf nie.
“Ek het myself nog nooit as ‘n skrywer gesien nie. Ek was maar een van Langeberg Sekondêr se stoute seuns. Baie van die onderwysers wou my nie in hul klaskamers gehad het nie – behalwe mnr. Lakay, wat vir my gesê het ek is meer as die dinge wat ek deurgegaan het. Op my herstelpad het ek probeer beter besluite neem,” vertel Arendorff.
“My eerste storie was toe ek vertel het hoe die Here my uit daardie fase uitgehaal het. Ek was ‘n daggakop en ‘n dronkgat. Toe het die Here my uit die donker diepte gehaal. Baie mense is geïnspireer daardeur en wou ook hul eie verhale deel.”
Vier jaar nadat hy begin skryf het, verstom sy Facebookblad se groei hom steeds. Arendorff het ‘n kursus in noodhulpverlening op tonele gedoen en is nou besig met ‘n kursus in joernalistiek.
“Omdat so baie negatiewe dinge in my omgewing gebeur, was daar ‘n tyd dat ek net negatiewe stories kon skryf – soos doodstydings. Ek het besef ons moet op die positiewe dinge ook fokus. Die lewe is reeds te negatief.
“Ek wil graag hê die blad moet in goeie en slegte tye ‘n skouer vir families wees, maar ek probeer om dit te balanseer sodat dit nie net oor slegte dinge gaan nie, en dat daar darem mooi stories ook is.
“Ek kom uit ‘n huis waar daar nie altyd baie was nie, maar ek is grootgemaak om die bietjie wat ons het, met ander te deel. My ma glo dat sy, selfs as sy swaar trek, ander moet help. Sy glo ‘n mens hoef nie baie te hê om ander se dag beter te maak nie.”
Dit is dié eienskap van sy ma wat hy met sy blad wou nastreef. “Ek wou mense aanmoedig om ander te help en ‘n platform skep waar mense hul kwellings kon deel sodat ons kan kyk of ons jou dag kan beter maak,” het Arendorff gesê.
“Almal wat na ons toe uitgereik het, is gehelp – soms meer as wat hulle verwag het. Die wêreld is vol goeie dinge en goeie mense. Soms verkies ons net om nie meer die goeie dinge raak te sien nie,” het hy vertel.
“My hoop vir 2026 is dat die Here my in ‘n beter posisie plaas om meer mense te help,” sê hy. “Hulp gaan nie altyd oor geld nie – soms is dit om ‘n oor te wees of saam met die familie ‘n pad te stap. Dit is vir my lekker om te sien wanneer gesinne se waardigheid herstel word.”





