Die Langerugskool is ‘n spesialis-skool in Worcester vir kinders met outisme en ander spesifieke leerhindernisse. Die skool het uit ‘n afdeling vir leerders met leerhindernisse by die Pionierskool vir sig-gestremdes in Worcester tot stand gekom.
Die Langerugskool laat reeds sedert 1994 leerders met leerhindernisse toe. Die betoog was dat dié leerders ook sou kon baat vind by die onderrig vir siggestremde leerders. Die leerders met leerhindernisse is aanvanklik saam met swak-siende leerders in klasse op die Langerugkampus onderrig, terwyl blinde leerders op die sentrale kampus van die Pionierskool skoolgegaan het.
In 1998 is personeel besnoei en moes ‘n herindeling gemaak word. Die besluit is geneem om die hoërskool op die Langerugkampus te vestig, en die laerskool op die sentrale kampus.
Die blinde en swaksiende leerders in die hoërskool, asook diegene met leerhindernisse, is toe na die Langerugkampus oorgeplaas. Die skool het probeer om die blinde leerders in aparte klasse te onderrig, maar soms het dit gebeur dat al drie groepe in een klas geakkommodeer moes word.
Sedert 2011 was daar toenemend sprake van aparte onderrig vir leerders met leerhindernisse, sodat die fokus weer 100% op eiesoortige behoeftes geplaas kon word. Die Langerugskool vir leerders met spesifieke leerhindernisse is in Januarie 2015 geopen, met altesaam 140 leerders. Die naam Langerugskool is gekies omdat die Langerugkampus reeds bekend was vir onderrig aan leerders met leerhindernisse.
Die skoolbeheerliggaam het weens ‘n tekort aan geriewe en skole in die Worcester-omgewing vir leerders op die outisme-spektrum besluit om ‘n afdeling vir outisme by die Langerugskool te begin.
Navorsing is by verskeie skole vir leerders met outisme gedoen. Die eerste leerders in die outisme-afdeling van die Langerugskool is in Oktober 2016 verwelkom. Vandag staan die leerdergetal reeds op 170, met talle suksesverhale.
Die Langerugskool bied dieselfde KABV-kurrikulum as hoofstroomskole. Hy het egter kleiner klasse, terapeute, tegnologiese hulpmiddels en vele meer. Dit bied leerders die toeganklikheid tot leer om hul volle potensiaal te bereik.
Tien jaar later gee die skool nie meer babatreë nie en staan danksy ‘n ondersteunende gemeenskap stewig op sy voete.





