Montagu Wyk 11 is die weeskind. Hier sukkel ons al ses jaar lank om die pragtige bome langs Van Riebeeckstraat versorg te kry. Verlede jaar gedurende die lente het toeriste weer eens soos in die verlede gestop om foto’s van die mooi blomme te neem.
Met die nuutverkose stadsraadslid is dammetjies rondom die bome aangebring. Party is oorgeslaan en nie eens water gegee nie. Daar is geen toesig oor die werkers nie. Die burgermeesterskomiteelid gemoeid met parke en pleine is nie ’n DA-ondersteuner en Montagu-inwoner nie en weet nie dat versorging van die bome agterweë gelaat word nie.
Die DA-lid doen sy bes, maar mag nie inmeng by die parke-en-pleine-afdeling nie. Hy het dit nog reggekry dat party bome darem twee weke voor Kersfees ’n bietjie water gekry het. Sommige is dood weens droogte.
Wyk 11 strek van Robertson tot tussen Langstraat en die Langeberge. Geografies pas ons nie hierdie kant van die tonnel in die wyk nie – ten spyte daarvan dat ’n regulasie uitstippel dat ’n bergreeks nie ’n wyk mag skei nie.
Daar is geen toesig oor werkers nie en produktiwiteit is glad nie aan salarisse gekoppel nie. Verskeie nuwe munisipale voertuie ry heeldag heen en weer; weet nie waarheen nie.
Belastingbetalers kry geen waarde vir hul geld nie. Verder loop duisende liters suiwer, gratis vars bergwater al vir jare in die rivier in. Die pyp is op een plek stukkend, tot my skok. Ek wil nie glo dat die betrokke raadslid en burgemeesterskomiteelid van die ingenieurs- afdeling nie by die waterafdeling daaroor navraag doen nie.
’n Boer sal die pyp gou regmaak, maar as dit eers deur al die direkteure en ingenieurs moet gaan, sal dit nog ses jaar neem. Die raadslede is tog deur die belastingbetalers aangestel om die finansies en dorp se belange te hanteer, maar hulle het geen mag nie. Amptenare en werkers slaan die kitaar op hul eie tyd.
’n Bestuurder moet so spoedig as moontlik in Montagu aangestel word. Werk moet daagliks uitgedeel word en toesig moet bedags geskied.
Die teerspan ry teen ’n slakkepas op en af oor die gate en doen niks. Paaie raak net al hoe slegter.
Ek doen ’n dringende beroep sodat Montagu weer die ou spogdorp sal word.





