Die toeloop van haweloses is in 2012 deur besorgde Robertson-inwoners raakgesien – veral gedurende seisoentyd, wanneer meer arbeid op plase benodig word, word al meer mense gesien waar hulle onder brûe of op sypaadjies slaap.

Om te oorleef, bedel hierdie mense deur die dag vir geld en kos.

Die vraag het ontstaan: Hoe kan ons hierdie hawelose mense te hulp staan en uit die strate kry?

Dit het gelei tot die stigting van die Langeberg Doulos Trust.

Die Doulos Trust het onder die bekwame leiding van ’n passievolle projekbestuurder, Vincent Andries, gou aan die werk gespring.

’n Boer in die omgewing het ’n bakkie aan die trust geskenk, wat Andries in staat stel om sy daaglikse en meestal nagtelike take uit te voer.

Talle mense word deur die jare en steeds vandag gehelp. Die mooiste suksesverhale getuig van hereniging met families.

Foto’s beskryf die verhaal van dankbaarheid die beste, maar om privaatheid te beskerm, asook uit respek vir die betrokkenes, kan dit ongelukkig nie gepubliseer word nie.

Hoe word haweloses gehelp?

. Andries identifiseer die mense, waar hulle slaap en wat die behoefte per individu kan wees;

. Hy voorsien sover moontlik in basiese behoeftes, soos kos en klere;

. Indien mediese versorging benodig word, help hy die mense om hulle hospitaal toe te neem;

. Indien begrafnisse ter sprake is, help Andries ook met die teraardebestellings;

. Indien die mense nie identiteitskaarte het nie, word hulle gehelp om sodanige dokumente te bekom. Daarna word hulle gehelp om vir Sassa te registreer; en

. Andries help om hulle te herenig met hulle families oor die land heen. Dit stel die mense ook in staat om weer in te skakel by die samelewing en deel van ’n gemeenskap te vorm.

Al hierdie bedrywighede kos natuurlik geld en finansiering hiervoor kom slegs van skenkings wat ontvang word. Die trust was bevoorreg om in 2021 deur die KykNet-program Dankie Lottoland besoek te word en het ’n eenmalige skenking ontvang.

Ongelukkig hou skenkings nie vir altyd nie en die stygende lewenskoste is inderdaad iets wat deur almal gevoel word.

Enige hulp in terme van finansiële bydraes, kos, klere of ander bydraes is uiters welkom.

Daar is werklik so baie mense wat swaar kry en net ’n helpende hand nodig het om hulle weer op die regte pad te kry.

Die trust word bestuur deur drie trustees, ’n administratiewe klerk en die projekbestuurder, Andries, wat in werklikheid “man-alleen” alle veldwerk hanteer. Hierdie mense is ten volle verantwoordbaar om korrupsie en wangebruike te voorkom.

. Kontak ds. Marius Joubert by 082 557 5985 met navrae, vir inligting of om ’n welkome skenking te gee.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article