Teen die muur hang foto’s en koerant-uitknipsels van atlete, sommige al vergeel van ouderdom. Erens in kas, lê die hardloopskoene waarmee Kosie Koopman (77) sy eerste groot byeenkoms gewen het.
Koopman is een van 26 mense wat op Donderdag 13 Maart tydens die Wes-Kaapse jaarlikse sportlegendes-toekennings in die Paarl vereer is vir sy jarelange bydrae tot atletiek.
Koopman se lewensverhaal is verweef met atletiek en dit is ná dekades steeds sy passie.
“Julle plek in die geskiedenis is verseker, nie oor ‘n enkele wedstryd, ‘n rekord of ‘n kampioenskap nie, maar oor die lewens wat julle verander het. Julle nalatenskap is nie in die verlede nie, maar lewe voort in elke kind waarvoor julle ‘n mentor was, elke atleet wat julle afgerig het, elke gemeenskap wat julle opgehef het,” het Ricardo Mackenzie, die Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, gesê.
Koopman het homself as’t ware “uit” ‘n moeilike lewe uit gehardloop. “En daarvoor is ek ons Hemelse Vader ewig dankbaar. Dis net hy wat my al die jare nog krag gee.”
Hy het sy ma op sewejarige ouderdom verloor en moeilike tye het gevolg.
Só benard was dit dat hy soggens en smiddae van asblik tot asblik geloop het op soek na iets te ete.
“Ons het op Brandwacht gewoon en ek het as hoërskoolkind elke dag die 9km tot by Esselen Park Sekondêre Skool gehardloop en smiddae weer terug,” het hy vertel. Sy omstandighede het vererger sodat hy op ‘n stadium haweloos was en onder ‘n bos gewoon het. Só benard was dit dat hy soggens en smiddae van asblik tot asblik geloop het op soek na iets te ete.
‘n Man wat hom gereeld gesien het en met hom begin gesels het, het vir hom ‘n werk by ‘n vriend se fotografie-onderneming gereël. Later het een van die verskaffers gereël dat hy ‘n beurs by die Universiteit van Stellenbosch kry waar hy besigheidsbestuur kon studeer. Hy het sy eie fotografie-onderneming, Starlight Photos, op die been gebring wat floreer het en jare later het hy ‘n makelaar geword.
“My eerste voorsmaak van wedlope was toe ek op laerskool ‘n 200m wedloop gewen het. Die huistoe-hardlopery het my fiks en lief vir hardloop gemaak. Later was ek die SA-skolekampioen in landloop.” In 1968 wen hy die 10 000m tydens die SA-kampioenskap in Durban. “Dit was een van my hoogtepunte. Daardie jare het die bruin, wit en swart atlete apart gehardloop en hulle het na die tyd ons tye vergelyk en ‘n wenner gekies,” het Koopman vertel. Dié hardloopskoene wat hy daardie dag gedra het, bewaar hy veilig in ‘n kas.
Daarna het nog vele wedlope gevolg. Hy hou ook die tweede vinnigste tyd in Suid-Afrika in die Caledon-Genadendal Marathon wat ‘n gewilde wedloop in die 1970’s en ‘80s was. Hy het sy hardloopvriende het die ou Worcester-atletiekklub in 1972 laat herleef en hy het begin om atlete af te rig.
Daar is sedertdien al honderde atlete deur sy hande, ook groot name soos Farwa Mentoor, wat vyf keer die eerste vrou oor die wenstreep was in die Comrades-marathon en Donovan Wright wat goues ingeoes het in die Comrades en Two Oceans marathons asook die SA-marathonkampioenskap.
“Ek het by die toekennings so ver teruggedink aan al die atlete saam met wie ek gewerk het. Dit was spesiaal,” het Koopman gesê. Hy het talle male ‘n kind uit moelike omstandighede oorreed om te begin hardloop en hulle sodoende ‘n blinker toekoms te verseker.
Op 77 is sy hardloopskoene nie weggepak nie. Hy het die 800m-rekord opgestel in meestersatleteiek (60 – 70 jaar). Hy glimlag as hy sê hy het planne vir die 70 tot 80 jaar ouderdomsgroep se rekord.
Aan Koopman se sy is sy geliefde Beaty, wat nie net ondersteuning bied vir haar man nie, maar ook talle ander atlete.
“As ek dit maklik gehad het as jongmens, sou ek nie gevorder het tot waar ek vandag is nie,” vertel hy. Dis hierdie lesse wat hy oor dekades heen aan atlete leer. Oefen baie hard, wees spaarsamig en slim met jou wengeld, wees dankbaar. Bowenal, help ander wat swaar kry.







You must be logged in to post a comment.