Besoekers vanuit Kaapstad was ontsteld toe hulle ‘n familielid se graf gedurende Paasnaweek in Worcester besoek het.

Lang gras, vullis en die verwaarloosde toestand van die grafte was nie wat hulle verwag het by die ou begraafplaas in die dorp nie. Hulle wou kla, maar is glo na die “parkeraad” verwys, waar die telefone nie beantwoord is nie.

Dr. Julian Kritzinger, raadslid van wyk 7, het by navraag verduidelik dat hoewel die begraafplase in Kerkhof- en Fairbairnstrate op die oog af soos een lyk, is dit in der waarheid 23 verskillende persele wat aan verskillende instansies en gemeentes behoort.

“Daar is slegs drie persele wat munisipale begraafplase is, terwyl die ander 20 persele almal aan verskillende gemeentes behoort,” het hy verduidelik.

Vullis lê voor die ingang van die ou Worcester begraafplaas.
Een van die ingange na die begraafplaas is besaai met vullis.

Volgens hom is elke gemeente verantwoordelik vir hul eie persele se instandhouding.

“Die probleem is egter dat baie van dié gemeentes óf nie meer bestaan nie óf nie oor die nodige finansiering beskik om hul persele instand te hou nie.”

Kritzinger het gesê die Breedevallei-munisipaliteit poog om hande met dié gemeentes te vat en met die nodige instandhouding te help, selfs al is dit nie hul grond nie en hulle nie verplig is om dit te doen nie.

Voorheen het wyk 7 se wykskomitee ingespring en hul wyksgebaseerde finansiering aangewend om die NG-Moedergemeente se begraafplaas, die Apostoliese Kerkbegraafplaas en die Lutherse Kerkbegraafplaas se straatfronte te omhein, nadat die mure en draadheining gesteel was.

Die Moslem-begraafplaas se betonmure kon herstel word.

“Tans is die openbare werke-afdeling besig met ‘n tenderproses om nog heinings en hekke aan die straatfront in Kerkhofstraat aan van die oorblywende gemeentes se begraafplase aan te bring – al is dit eintlik daardie gemeentes se plig om dit self te doen,” het hy gesê.

Die besoekers het ook gekla dat van die hekke gesluit was en toegang moeilik was. Volgens Kritzinger is die sleutels vir die toegang tot die onderskeie begraafplase by die relevante kerkantoor beskikbaar.

Munisipaliteit maak drie terreine skoon

“Die munisipaliteit is slegs verantwoordelik vir die instandhouding en skoonmaak van die drie persele wat die munisipale begraafplaas is. Die munisipaliteit maak hierdie drie persele volgens ‘n skedule skoon.

“Daar word tans finale onderhoude vir die aanstelling van ‘n nuwe supe- rintendent van begraafplase gehou,” het Kritzinger gesê.

“Indien iemand ontevrede is met hoe ‘n nie-munisipale begraafplaas lyk, moet hulle dit met daardie relevante gemeente opneem. Indien daar nie samewerking van daardie gemeente is nie, kan die klagte by my as wyksraadslid van wyk 7 (waarbinne die nie-munisipale begraafplaas lê) gelê word by 082 478 0424 of jkritzinger@bvm.gov.za en ek sal die klagte aan die brandweer stuur. Hulle sal ‘n brandgevaarkennisgewing uitreik indien die onkruid ‘n brandgevaar inhou.

Die relevante gemeente word dan op terme geplaas om hul begraafplaas voor ‘n sekere datum skoon te maak, anders kry hulle ‘n boete.”

Hy het versoek dat die gemeenskap sal saamwerk en dit onmiddellik rapporteer wanneer vandale skade aanrig by die begraafplaas. Die 24-uur BVM-Inbelsentrum (Service Support Centre) gekontak word by 0860 121212 of ssc@bvm.gov.za, sodat Wetstoepassing onmiddelik ontbied kan word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article