Boland Kollege was onlangs trots om vooruitgang in hernubare energie op sy Worcester-kampus aan te kondig. Dit as deel van sy voortdurende verbintenis tot volhoubaarheid en vernuwing.
Dié kollehe het die afgelope paar weke ’n belangrike opleidingsessie aangebied oor global g.a.p., oftewel goeie globale landboupraktyke en voedselsekerheid in die vrugte- en groente-waardeketting.
Boland Kollege se vennote Feline Heussen en Mark Bos het die opleiding aangebied.
Die opleiding is deel van ’n Nuffic- gefinansierde projek oor “volhoubare tuinbou-waardekettings in die Bolandstreek met die integrasie van hernubare energiekonsepte” en word in samewerking met die Koue Bokkeveld-opleidingsentrum aangebied.
Tydens die opleiding het Vincent Uys ’n omvattende oorsig gegee van die nuut geïnstalleerde sonpaneelstelsel by die Worcester-kampus. Die sonkraginstallasie is in Junie vanjaar voltooi, is ten volle in werking en is ’n belangrike mylpaal in die kollege se verbintenis tot hernubare energie.
Die projek is verder deur samewerking tussen Boland Kollege, Soly en Q-Point moontlik gemaak.
“Die integrasie van hernubare energie in landboupraktyke gaan nie net oor die aanvaarding van tegnologie nie; dit gaan oor die versekering van die langtermyn gesondheid van ons omgewing vir toekomstige geslagte. Deur volhoubare-energie-oplossings te gebruik, bemagtig ons boere om hul koolstofvoetspoor te verminder en meer doeltreffend te werk, terwyl ons terselfdertyd ’n groener en meer veerkragtige landbousektor bevorder,” sê Vincent Uys, ’n senior opvoedkundige spesialis in landbou by Boland Kollege.
“Daarbenewens is ons opgewonde om ons komende inisiatief aan te kondig – die RenewHortiSA-projek. Hierdie baanbrekerspoging het ten doel om hernubare energie-oplossings verder in Suid-Afrika se tuinbousektor te integreer, en sodoende volhoubaarheid, vernuwing en omgewingsbewaring te bevorder. Ons streef deur die inkorporering van vooruitstrewende hernubare energietegnologieë, insluitend gevorderde wateroplossings aangedryf deur hernubare energie, om tuinboupraktyke te verbeter en ’n groener toekoms te ondersteun.”
Boland Kollege bedank Vincent Uys, Derrick Mathee (waarnemende kampusbestuurder: Worcester-kampus) en al sy eksterne belanghebbendes. Hul toewyding, passie vir boerdery en verbintenis tot volhoubare praktyke is deurslaggewend in die vorming van ’n volhoubare toekoms vir landbou, sê dié kollege.





