Die welbekende dr. S.F. Kotze, die oudrektor van Minnie Hofmeyr-kollege vir maatskaplike opleiding, is Maandagaand ná ’n lang siekte oorlede.
Hy is oorlede in sy woonstel by Huis Andries Hamman, waar hy die afgelope 22 jaar gewoon het, waarvan twee jaar saam met sy vrou, Lenie, wat in 2002 ná ’n beroerte oorlede is.
Hy was ’n hegte gesinsmens en het gereeld telefonies met sy familie gesels, maar dié middag het hy sy gesprek met sy dogter Lydia Britz beëindig nadat hy gekla het hy haal moeilik asem.
Kotzé was vir 12 jaar rektor van die kollege en het ’n buitengewoon sterk band met sy studente behou, selfs lank nadat hulle die kollege verlaat het. Sy skerp brein en besonderse geheue was legendaries by almal met wie sy lewenspad gekruis het.
Sy dood het ’n einde gebring aan 92 lewensjaar van stellig die gewildste universiteit/kollege-rektor in die land. Oudstudente het van oral oor die wêreld heen hul diep hartseer en medelye met sy heengaan op sosiale media uitgespreek.
Stephanus Francois Kotzé, wat op 13 Julie 1929 op die familieplaas naby Garies in Namakwaland gebore is, het later sy skoolopleiding hier voltooi voordat hy hom as sendeling bekwaam het. Hy het in die destydse Sendingkerk-gemeentes in Bonnievale en Wagenmakersvallei as predikant gewerk totdat die sinode hom as organiserende sekretaris van die NG Sendingkerk in SA aangestel het om die verskillende hulpdienste van die kerk te bemark.
In 1976, as leraar by die Sendingkerk Beaufort-Wes Oos, het hy sy doktorsgraad aan die destydse RAU behaal met die proefskrif Arbeidsosiologie en minderheidsgroepe. Soos die titel aandui, was verhoudings tussen mense – en in besonder die verskillende groeperinge in SA – van groot belang vir hom as kerkleier en ook as sosioloog.
Daarom was sy aanstelling in 1982 as eerste manlike rektor – en eerste manlike dosent saam met dié skrywer – by die Minnie Hofmeyr-kollege so ’n opwindende uitdaging. Die kollege het in 1993 gesluit en in 2013 het oudstudente die twee dosente met oorkondes vereer.
Die junior stadsraad het hom met sy 90ste verjaarsdag in 2019 erkenning gegee vir sy diens aan die jongmense van Worcester. Om met jongmense te werk en saam met hulle die pad na diensbaarheid vir God en medemens _– soos die kollege se leuse lui – te kon stap, was 12 jaar lank sy vreugde. In sy eie woorde: “Om te help met die vorming van jong werkkragte in die professie van maatskaplike werk het my laat voel dat ek my invloed laat vermenigvuldig.”
Onder sy leiding het die kollege landswyd en internasionaal bekendheid verwerf vir die gehalte van maatskaplike opleiding hier, soos bewys is in die wye akklamasie wat oudstudente as maatskaplike werkers in diensvelde soos Korrektiewe Dienste, die staatsdiens en Badisa ontvang het.
Kotzé laat sy drie seuns – Karel, Hennie en Stephan – en dogter, Lydia, asook drie kleinkinders agter.VSy begrafnisdiens is volgende Saterdag, 21 Mei, om 11:00 uit die NG Moederkerk.





