Dit is Vrydag en ek en my kollegas, Rick Marais en Roger du Toit, is vroegoggend al op die pad om die warm Karoo-son aan te durf en te gaan kyk wat op Laingsburg aangaan.
Ek was baie jare gelede op dié Karoo-dorpie.
Met ons aankoms in die hartland van die Karoo word ons gegroet met vaal bossies en die hitte wat soos water op die teerpad lyk – dit is nou eers 08:30 in die oggend en die son bak reeds.
Ons eerste stop is by die plaaslike biblioteek in die hoop dat ek jare lange vriende wat daar werk, sal raakloop. Hulle het my nog altyd op hoogte van sake gehou oor die “Burg”, soos die plaaslike inwoners Laingsburg noem.
Hulle is toe nie een meer daar nie, maar gelukkig ken ek ook dié wat wel nou daar werk. Ou vriende wat ek op skool laas gesien het. En sommer gou begin ons aan die gesels raak oor Laingsburg en sy mense.
“Hier in die Burg is nou vir jou van al die tipe mense onder die son. En hulle bring elkeen so ietsie anders na die tafel. Net soos hulle jou kan kwaad maak, kan hulle jou ook lekker laat skater van die lag,” val Francisca Jansen weg.
Francisca, oorspronklik van Worcester, is die bibliotekaresse. Sy werk nou maar eers vir haar tweede jaar hier, maar sê sy geniet dit nog elke dag.
“Vat nou maar net vir oom Lourens Meyer van Huis Malan (die plaaslike tehuis vir bejaardes). Hy het nou ’n wil van sy eie en wil glad nie gehelp word nie – al loop hy ook met ’n loopring,” vertel sy laggend.
Sy vertel voorts dat oom Lourens, soos almal hom ken, oral bekend is in die dorp en in die kontrei. “Self die trokdrywers ken hom, want hulle moet gereeld vir hom stop wanneer hy besig is om oor die N1-hoofweg te loop. Oom Lourens hou die hele verkeer op en dan staan die trokke in rye vir hom en wag. Selfs die verkeersbeamptes moet soms die pad afsper sodat hy eers oor die pad kan loop,” sê sy.
“En so hardkoppig soos hy soms kan wees, het hy egter ’n baie goeie hart. Hy sal altyd hier aankom met iets lekkers vir ons – al is dit ook net ’n pakkie Spookies,” voeg sy by.
Oom Lourens is 52 jaar al lid van die biblioteek. Die biblioteek is in sy 54ste bestaansjaar en sover bekend, is hy die oudste lid. “Hy kom nog gereeld om self boeke uit te neem, dan vertel hy altyd staaltjies oor die ou dae en die tye voor en ná die Laingsburg-vloed in 1981.”
Die biblioteek is een van die min geboue in die dorp wat nie baie skade opgedoen het tydens die vloed nie – eintlik het net die boeke skade opgedoen. Die vloer en boekrakke is alles oorspronklik en geen opgraderings is gemaak nie.
Die biblioteek is deesdae ’n heenkome vir kinders, veral in die vakansie wanneer spesiale programme aangebied word.
“Die lees-uur is ook gewild onder die jongspan en die kinders geniet ook ons temaweke, soos erfenis en kultuur,” voeg Francisca by.
Heel opvallend is die flat-screen televisie teen die muur wat op CartoonNetwork is. Eintlik is dit net ’n bord met prente op wat die vroue gemaak het vir die kleintjies om na te kyk. En volgens hulle is dié TV nogal gewild.
“Daar is meer aan Laingsburg as net die vulstasies waar mense pit-stops maak op pad Johannesburg of Kaap toe en die vloed van 1981. Hier is lewe, hier bly mense – karakters sê ek jou,” gooi Marcha Fortuin, die biblioteek-hulp, ook haar vyfsent in die bordjie.
“Vat nou maar net vir ou Boom wat altyd hier voor die wynhuis oorkant die biblioteek sit. Hy maak ’n mens soms so kwaad, maar jy mis hom as hy nie die dag daar is nie, want hy’t altyd ’n grap of twee. En voor jy jou weer kom kry, lag jy jou klaar vir hom en gee hom sommer ou ietsie,” lag sy.
Sy vertel dat Boom met ’n kierie loop en heeldag voor die wynhuis sit en mense terg. “En hy kan ’n mens se pay so dophou. Hy weet wanneer almal pay en dan sal jy vir Boom hoor sê, ‘Hoor hier vrou, jy’t mos darem vandag gepay, jy kan my mos darem ’n R10 gee, hoe’s jy dan ook?’ En dis ook nooit meer as ’n R10 nie. Maar almal is lief vir hom,” sê sy.
Heidi vertel dat die plaaslike OK-minimark met Boom se 60ste verjaardag vir hom ’n koek gebak het en hy dit met almal gedeel het.
“En hier het mense maniere. Hier groet jy nie omdat jy wil nie, maar omdat jy moet, want die plekkie is so klein as jy nie iemand groet nie, is jy gou in die moeilikheid by die huis oor jy wat nie vir tannie dié gegroet het nie. Hier speel die kinders nog in die pad en gaan hulle daar waar hulle gestuur word. Grootmense is grootmense en kinders bly kinders,” voeg sy by.
“Oe, moenie van Moos vergeet nie,” sê Liezl van agter die toonbank uit, waar sy besig is om iemand te help.
Liezl Koenze is die assistent-bibliotekaresse en net soos Marcha is sy ’n gebore en getoë Karoonaar.
Sy vertel dat Moos die dorp se graftoegooier is. Ja, jy’t reg gelees, hy gooi grafte toe by begrafnisse.
Dis ’n werk wat hy sommer vir homself toegeëien het. “En hy raak kwaad as iemand anders dit wil doen,” sê sy laggend.
“Moos woon elke begrafnis in die dorp by. En hy bring sommer sy eie graaf saam. Hy gee net die familie kans om sand op die graf te gooi en soms moet hulle sommer net met die hand sand sprinkel. En as jy weer sien is Moos besig om die gat toe te gooi. En jy moet wegstaan anders is jy vol sand, want hy gooi sommer van ’n afstand af. Snaaks genoeg, niemand worry nie, want almal weet dis Moos se werk,” vertel sy.
En so stap die tyd vinnig aan terwyl hulle met ons die stories en staaltjies van die hartlanders deel. Hulle vertel van Tannie Spamer by Huis Malan wat onlangs 104 geword het. Hulle vertel ook van Tannie Tien, wat net 10 km/h voor jou ry, maak nie saak hoe haastig jy is nie. Hulle vertel van die Karoo-marathon en die plaasmark; van Antie Poppie se roosterkoek en die Karoo-Lelies, ’n groep bejaardes wat daagliks bymekaar kom om kralegoed te maak.
Die tyd het aanbeweeg en so is ons toe weg by die biblioteek om die mense te gaan ontmoet waarvan ons so baie gehoor het. Ons is Huis Malan toe om vir Tannie Spamer en Oom Lourens te gaan ontmoet.
Ons het vir Boom voor die wynhuis gekry waar hy ons lekker laat lag het met sy sêgoed. En ons het Antie Poppie se roosterkoek probeer – van die beste wat ek ooit geproe het (iets wat jy moet probeer as jy in Laingsburg is).
Almal presies soos die dames van die biblioteek hulle beskryf het: Oom Lourens het ’n wil van sy eie, Boom laat jou lag en Antie Poppie se roosterkoek is ’n wenner. Vriendeliker mense as dié Karoonaars het ek nog nie ontmoet nie.
En ná ’n lang dag se kuier in die hartland van die Karoo, tussen die mense van Laingsburg, is ons op pad terug Boland toe met ’n roosterkoek in die hand en Karoo-tunes in die agtergrond.




