Koop ’n boek van ’n jou geliefde se gunstelingskrywer en gee haar ook ’n oulike Valentynsboekmerk. Foto:


In ’n onlangse Suid-Afrikaanse markopname deur die modehuis Ziri is bevind meer as 60 persent van die vroue wat aan die opname deelgeneem het, verkies om met ’n geskenk verras te word, pleks dat hulle dit self uitkies.

Valentynsgeskenke hoef nie jou sak te ruk nie. Hier is ’n paar oulike voorstelle wat jy vinnig gereed kan kry en wat sommer baie meer romanties is as juweliersware of naskeermiddel.

Hou ’n piekniek – in jou sitkamer

Wat is dan so romanties soos ’n piekniek? As jy nie ’n restaurantbespreking het vir eerskomende Dinsdagaand nie, omskep jou sitkamer in ’n romantiese restaurant vir twee.

Koop heerlike klaargemaakte vingerhappies en jou geliefde se gunstelingnagereg. Krap ’n bietjie tussen jou ou CD’s rond en speel die liedjie wat gespeel het toe julle die eerste keer gesoen het of waarop julle die dansbaan op jul troue geopen het.

Skryf ’n liefdesboodskap

Valentynskaartjies is dikwels duur en nie baie persoonlik nie. Wees ’n slag oorspronklik en skryf vir jou geliefde ’n boodskap iewers waar hulle dit nie verwag nie. Wanneer hy in die stort is, skryf: “Ek is lief vir jou” in die stoom op die spieël of los ’n briefie in die foto-gleufie van haar beursie.

Vir die boekwurm

As jou geliefde ’n boekwurm is, neem haar na ’n boekwinkel waar sy self ’n boek kan uitkies. In Spanje gee paartjies mekaar op St. George-dag (in April) rose en boeke. Die tradisie in Barcelona is om die aand ná werk hand-aan-hand in Las Ramblas te stap en by boekstalletjies op straat vir mekaar boeke uit te soek. Dís nou romanties!

Gebruik tegnologie

Gebruik jou slimfoon om ’n video te maak waarin jy vir jou geliefde vertel hoe lief jy hom of haar het. (Oefen dalk vooraf sodat jy jou woorde goed agtermekaar kan kry) Laai dan dié video op YouTube en deel dit met jou geliefde op ’n sosiale netwerk soos Facebook, Twitter of Instagram. Dan kan die hele wêreld sien hoe romanties jy is!

Hou ’n spa-dag tuis

’n Heerlike bederf! Koop ’n pak kerse en tap ’n skuimbad waarin jou geliefde kan ontspan ná ’n lang werksdag. Gebruik haar gunstelinglyfroom en masseer haar voete of skouers. Maak dit ekstra romanties met ’n glas vonkelwyn en ’n boks donkersjokolade.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article