Laatnag-botsing eis familielede op pad om verjaardag te vier

Jemaime Kleinveld en haar pa, Jonathan Sikolweni. Foto: verskaf

Wat ‘n heuglike familiebyeenkoms moes wees om ‘n verjaardag te vier, het in ‘n tragedie ontaard toe twee familielede op Vrydagaand 29 Augustus uit die lewe geruk is in ‘n motorongeluk buite Worcester.

Jemaime Kleinveld se pa, Jonathan Sikolweni (40), en oom Odwa Lowasa (34) is twee van die oorledenes. Hulle was op pad na hul familie in De Doorns om Kleinveld se negentiende verjaardag te vier en om as familie byeen te kom ná ‘n bejaarde familielid se dood ‘n ruk gelede. Sikolweni se vrou en Lowasa se verloofde, twee seuns en sy ma was ook in die voertuig.

Drie mense is dood nadat twee voertuie mekaar op die N1-snelweg buite Worcester getref het. Foto;’s: One Way Towing

Volgens AO Vathiswa Jacobs, ‘n woordvoerder van die Worcester-polisie, het ‘n passasier wat in die een voertuig was, vertel dat die bestuurder besig was om iets uit die bagasiebak te haal toe die ander motor teen hulle s’n gebots het. Die ongeluk het ongeveer 22:00 gebeur.

Twaalf mense was in die ongeluk betrokke met drie wat ernstige beserings opgedoen het. Die derde oorledene se identiteit is nie bekend nie.

“Ons harte is gebreek. Ek kan nie beskryf hoe ek voel nie, want dit voel of ek versmoor,” het Kleinveld, Sikolweni se oudste dogter, by navraag gesê.

“Ek was so opgewonde om my pa te sien omdat hy op pad was vir my verjaarsdag. Ons het al slaapplek reggemaak vir hom en my stiefma.” Sy beskryf haar pa as ‘n mense-mens vir wie vrede baie belangrik was. “Hy was baie lief vir sy drie kinders, sy vrou en sy ma.”

Kleinveld sê haar ouma kry swaar. “Sy sê my pa se laaste woorde aan haar bly by haar opkom. Hy het gesê: ‘My ma, ek is baie lief vir jou en vir die kinders van die huis. Moenie lelik wees of lelik met mekaar lewe nie, want die lewe is kort’.”

Die polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag.

Daar was twaalf mense in die ongeluk. Die harde impak het die lewe van drie mense geëis met nog drie wat ernstig beseer is. Foto: One Way Towing
Odwa Lowasa

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article