Altesaam 16 plaaslike skoolkore en vier gaskore tree oor twee aande by die Esselenpark Primêre Skool in Worcester op – as deel van die Worcester Skolemusiekvereniging se jaarlikse skolemusiekfees.
Die eerste skole het reeds gisteraand (Woensdag 3 September) opgetree, maar daar is nog ‘n geleentheid om vanaand na 16 kore se sang te luister. Dit sluit in kleuter-, junior, senior en gekombineerde kore.
Die skolemusiekfees het sy oorsprong 25 jaar gelede gehad toe voormalige skoolhoofde skoolkore weer op die verhoog wou kry.
“Ons groei elke jaar. Vanjaar het ons 16 plus kore per aand wat optree. Daar is ook vier gaskore wat vir die eerste keer optree, naamlik Stettyn Primêr, Da Le Bat, Zwelethemba High en Langeberg Sekondér,” sê Tertia Davids-Minnies van die Worcester Skole-musiekvereniging.
Rawsonville Primêr is ná ‘n paar jaar terug by die musiekfees. ‘n Onderwyserskoor, wat uit voormalige en huidige onderwysers bestaan, tree vanaand op en verleen verdere opwinding tot die geleentheid.
Die Worcester-skolemusiekvereniging gebruik die platvorm om leerders te help om hul talente te ontwikkel en gemeenskappe by die kultuur van die dorp betrokke te kry.
Moet dit nie misloop nie. Kaartjies kos R50 en is by alle deelnemende skole beskikbaar. Bel Brandon Fixter by 076 359 0336 of Althea Jonkers, die voorsitter, by 071 884 9238 vir nog inligting.
• Die deelnemende skole sluit in Eden Opleiding, Hexpark Primêr, Esselenpark Primêr, Slanghoek NGK Primêr, Victoria Park Primêr, Hexpark Primêr, Esselenpark Primêr, Lorraine Primêr, Wyserdrift Primêr, Oefenskool Primêr, Esselenpark Sekondêr, Roodewal Primêr, RK Primêr, De Tuinen Primêr, Roodewal Primêr, Riverview Primêr, Worcester Moslem Primêr, Petra Gedenk Primêr, Rawsonville Primêr en Worcester Sekondêr.




