Dis dalk nie iets waaraan jy aldag wil dink nie, maar jou geldsake moet steeds hanteer word ná jou dood. Sonder ’n geldige testament verloor jy beheer oor die proses.

Enigiemand wat bates het en kinders, ’n lewensmaat of familie wat hulle wil hê moet van hulle erf, moet ’n geldige testament hê.

As jy sonder ’n testament of sonder ’n geldige testament sterf, tree die Wet op Intestate Erfopvolging in werking en jou erfgename word kragtens die wet bepaal. Jou huweliksmaat en/of jou nageslag erf daarvolgens in ’n voorgeskrewe volgorde.

Wat kos ’n testament?

Daar is geen vasgestelde tarief nie en die prys hang van die ingewikkeldheid af. Volgens Macpherson kan ’n baie ingewikkelde testament jou in die omgewing van R10 000 tot R15 000 kos.

Daar is egter ook prokureurs wat heelwat minder sal vra vir ’n testament wat nie ingewikkeld is nie. Sekere prokureurs en trustadministrateurs sal dit gratis doen, mits hulle as eksekuteurs aangestel word. Gryp die kans dus sommer nou aan in Nasionale Testamentweek.

Wie is die beste om ’n testament op stel?

Dit moet verkieslik deur ’n professionele persoon gedoen word soos ’n prokureur, bank of ’n trustmaatskappy wat daarin spesialiseer. Hoe ingewikkelder, hoe groter die kundigheid.

’n Testament moenie net tegnies korrek wees nie, maar moet ook aan wetsvereistes voldoen en prakties uitvoerbaar wees. – Netwerk24

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article