Vier vroue is verlede week by die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) se jaarlikse Fenomenale Vroue-saamtrek vereer.
Hierdie geleentheid was ook deel van die viering van Vrouemaand. Vanjaar se spoggeleentheid is by die Kronenberg-landgoed in die Paarl gehou.
Die KWDM het die publiek in Julie genooi om fenomenale vroue in tien afdelings te benoem vir die werk wat hulle in hul gemeenskappe doen. ’n Paneel beoordelaars het die inskrywings nagegaan en die wenners verlede Woensdag (28 Augustus) aangekondig.
Heloise Beukes het die prys ontvang vir Fenomenale vrou in ’n ondersteuningsrol. Beukes is die stigter van Women of Worcester-organisasie waardeur sy vroue en jong meisies bereik en bemoedig. Sy is ook betrokke by die Rotariërs, die Gemeenskapspolisiëringsforum, dien in die wykskomitee en skroom nie om by geldinsamelingsprojekte in die gemeenskap betrokke te raak nie. Dit is maar net ’n paar van die organisasies in die gemeenskap waarby sy betrokke is.
“Ek is nog baie opgewonde oor hierdie toekenning. Dit is gewis vir my ’n aansporing tot groter dinge. Toe ek uitvind dat ek benoem is, het ek eers gevoel daar is ander wat soveel groter dinge doen, maar ’n mens moet ook nie jouself onderskat nie.
“Ek is ook baie betrokke by GBV en voel hierna geïnspireerd om meer vir ons vroue en kinders te doen en selfs net meer aandag te gee aan vrouwees in geheel, want soms skeep ons onsself af.
“Ons moet leer om na onsself om te sien en ons waarde te besef.”
Anneliza Thiart, die eienaar van Anna, het die prys vir Fenomenale vroue-entrepreneur ontvang.
“Dit is ’n absolute voorreg om hierdie prys Worcester toe te kan bring. Dit is egter nie net myne alleen nie – dis almal wat vir Anna ondersteun, se toekenning.”
Die prys vir Fenomenale vrou in basiese onderwys het aan Natasha Africa gegaan. Sy is ’n onderwyser by Worcester Senior Sekondêre Skool.
“Ek was geheel en al oorweldig toe ek as die wenner in dié afdeling aangekondig is. My emosies was nog besig om tot ruste te kom, want ’n ander onderwyser van ons skool, Debbie Voigt, is as die tweedeplekwenner aangekondig. Ek het glad nie verwag om die prys te ontvang nie. Dis regtig ’n mylpaal en ’n groot erkenning vir die laaste 20 jaar wat ek as onderwyser werk. Dit het my laat voel ek word waardeer. Dit gee my nuwe hoop om net sterker aan te gaan.”
Johmina Vlok het die prys in die afdeling vir organisasies sonder winsoogmerk gewen.
Sy het 18 jaar gelede ’n huis van veiligheid in Avianpark begin vir enigiemand wat mishandel word.
Vyf jaar gelede het sy ’n crèche begin vir ouers wat nie die duurder skooltjies kan bekostig nie. Dus betaal ouers R250 per maand en dit dek kos vir die kinders vir die maand.
Vier jaar gelede het sy House of Daily Bread begin – dit is om enigiemand wat honger is, te voer wanneer hulle dit nodig het.
“Ek is baie opgewonde oor hierdie erkenning; ek voel goed oor die feit dat iemand in die gemeenskap raakgesien het wat ek doen. Dit laat my sommer verder net nog baie harder in die gemeenskap te werk.
“Daar is nog soveel om te doen – veral hier in my eie gemeenskap.”
Ander naaswenners van die streek was:. Latoya Swarts (De Doorns) – Fenomenale vrou in vroeëkinderontwikkeling . Debbie Voigt (Worcester) – Fenomenale vrou in basiese onderwys. Stephné Botha (Worcester) – Fenomenale vrou in bestuur . Mareletta Mundey (Montagu) – Fenomenale vrou met passie . Terelga Bald (Worcester) – Fenomenale vrou met ’n gestremdheid.





