: Ying-Shan Tseng, Lisa-Mari van Wyk, Jan-Meyer Verhoef en Robyn Waters tree op by die eerste kutluurfees van Pionierskool.


Die veelsydige musikante van die Pionierskool belowe om mense se asems weg te slaan tydens die skool se eerste kultuurfees op 13 Oktober, wanneer die klanke van opera, klassieke klavier en prosa die Biesenbach-saal gaan vul.

Die welbekende en talentvolle Robyn Waters, wat vroeër vanjaar die internasionale gehoor vasgevang het met haar volwasse stem, is een van die kunstenaars wat die aand sal optree.

Sy het nege eerste plekke behaal by die Talent America 2016-kompetisie in New York. Robyn, ’n graad 8-leerder, het die harte van baie gewen met haar optredes van onder andere The Prayer en Time to say goodbye.

Haar medeleerders, Lisa-Mari van Wyk (met prosa) en Ying-Shan Tseng (met klavier en sang) beloof om ’n besoek aan die kultuuraand die moeite werd te maak.

Ook sal Jan-Meyer Verhoef van Hoër Jongenskool Paarl sy talent op die orrel ten toon stel, en die stemme van die Pionierskool en Laerskool Worcester-Oos skoolkoor sal gehoor kan word.

Musiekopvoeder Elmarie van Aarde sê hulle sien uit daarna om die skare te vermaak met hul godgegewe talent.

Hul gestremdheid staan nie in die pad daarvan om hoogtes te bereik en die aand sal bewys dat hul harde werk erkenning verdien, sê sy.

Kaartjies is by die Pionierskool beskikbaar teen R50 per persoon. Daar sal ook op die aand verversings te koop wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article