Die Montagu-polisie voer tans ’n verbete stryd om die toenemende koperdiefstal in sy polisiëringsgebied hok te slaan, sê lt.kol. Gerrit Wewers, bevelvoerder van die Montagu-polisiekantoor.

Hy maan ook dat die tronkdeure wawyd oopstaan vir diegene wat hulle aan gesinsgeweld skuldig maak. Voorts waarsku hy die gemeenskap om versigtig te wees met internetaankope en bedag te wees op selfoonslenters.

Koperdiefstal

“Ons grootste kopseer tans is die koperdiefstal wat aan die toeneem is. Die Koo-gebied en die gebied langs die R62 word vir groot hoeveelhede koperkabel geteiken.

“Ons vermoed hier is ’n afsetpunt in die Ashbury-woonbuurt,” sê die bevelvoerder.

Volgens hom is daar ook booswigte wat in die Montagu-Suid gebied, in die omgewing van die hospitaal, doenig is.

“Ons het onlangs ’n aantal inhegtenisnemings gedoen en op twee motors, een met koperkabels en die ander met twee sakke met koperdraad, beslag gelê.

“Verdagtes in koperdiefstalsake word deesdae ingevolge die Wet op die Beskadiging van Infrastruktuur aangekla. Die vonnisse is swaarder as in dié van gewone diefstalsake.

“ ’n Spesiale eenheid wat by die distrikskantoor in Worcester gebaseer is ondersoek hierdie soort sake,” sê Wewers.

Wet op gesinsgeweld

Die wysigingswet op gesinsgeweld het in April 2023 in werking getree.

Volgens Wewers kan oortreders ingevolge hierdie wetswysiging gouer as wat hulle dink agter tralies beland.

“Dié wet is baie duidelik, sodra daar tydens die oortreding van hierdie wet ’n element van geweld teenwoordig is, of daar nou ’n beskermingsbevel uitgereik is of nie, moet die verdagte in hegtenis geneem word en vir minstens sewe dae in aanhouding in ’n korrektiewe sentrum (gevangenis) bly, hangende sy / haar borgtogaansoek,” sê Wewers.

Hy sê voorts klaers in gesinsgeweldsake kan ook nie sommer net die saak terugtrek nie en ’n staatsaanklaer kan ook nie die saak van die hofrol skrap nie. Die landdros moet sodanige saak aanhoor.

Voorts maak die betrokke wetgewing voorsiening dat ’n landdros ’n bevel rakende ’n gesinsgeweldoortreder kan uitreik wat die polisie verplig om so ’n oortreder se wel en wee op ’n gereelde basis te monitor. Dis byna soortgelyk aan die monitering van ’n paroolganger onder korrektiewe toesig.

Aankope via die internet en selfoonslenters

Wewers waarsku vriendelik, dog ernstig die publiek moet aankope via die internet met groot omsigtigheid benader. Bly eerder weg van sogenaamde winskope.

Wanneer iets te goed klink om waar te wees, is dit gewoonlik nie waar nie.

Wewers noem ook ’n selfoonslenter waarmee niksvermoedende mense dikwels gevang word.

Die boosdoener bel en doen hom voor as ’n amptenaar van die bedrogafdeling van ’n bank. Hy / sy het dan kwansuis ’n verdagte transaksie op jou bankrekening opgemerk. Die boef vra dan die drie syfers op die agterkant van jou bankkaart om kamstig daardie betrokke transaksie te stop.

Sodra jy daardie nommers aan die sogenaamde “bankamptenaar” gegee het, kan hy / sy maklik toegang tot jou bankrekening verkry. In baie gevalle is dit ouer, goedgelowige mense wat op dié wyse ingeloop word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article