Ná twee jaar van gebrek aan optrede deur die nasionale regering, het konstruksie uiteindelik begin om die wal van die vier kilometer lange toevoerkanaal tot in die Brandvleidam met 300 mm te verhoog.
Die Wes-Kaapse regering sê hy verwelkom dit hartlik.
Die Wes-Kaapse departement van landbou het sedert 2015 hard gewerk om ’n interdepartementele proses te fasiliteer wat uiteindelik tot hierdie punt gelei het.
Dit het ingesluit om seker te maak dat al die vereiste inligting beskikbaar is en dat die nodige ondersoeke afgehandel is. Dit sluit in die ontwikkeling van ’n ontwikkelingsraamwerk, die aanspreek van omgewingsoorwegings, die ontwikkeling van voorstelle oor die kriteria vir waterlisensies, en hidrouliese ingenieurstudies.
Die verbetering van die kanaal se kapasiteit sal die watervloei na die dam verhoog, wat sal bydra tot ’n toename in besproeiingswater en uiteindelik bykomende landbougrond van meer as 4 000 hektaar ontwikkel.
Die konstruksiefase, wat 32 plaaslike werksgeleenthede sal skep, sal teen Junie 2022 voltooi wees.
’n Tweede fase wat op die toepassing en evaluering van waterlisensies fokus, begin binnekort.
Nog ’n kritieke infrastruktuurprojek wat na voltooiing ’n beduidende impak op die landbou sal hê, is die verhoging van die Clanwilliamdam.
Dié dam se verhoogde kapasiteit sal daartoe lei dat 6 000 hektaar bykomende grond ontwikkel word vir besproeiingslandbou van hoëwaardegewasse.
Die konstruksie het aanvanklik in 2014 begin, maar vordering was stadig weens herhaalde vertragings. Bouwerk sal hierdie maand hervat word.
Agri-Wes-Kaap en die Breedevallei-munisipaliteit het onvermoeid gewerk om hierdie kritieke infrastruktuurprojekte te ondersteun.





