The South African Police Service (SAPS)
Bekommerde ouers het vanoggend vir hul kinders se veiligheid gevrees ná ‘n beweerde bendeverwante-voorval by ‘n plaaslike hoërskool.

Ná ‘n voorval vanoggend by Hoërskool Breërivier in Worcester, het bekommerde ouers buite die skool gewag om seker te maak hul kinders is veilig.

In vermoedelike bende-bedrywighede het ‘n groep jong mans slaags geraak met ‘n seun op die skoolterrein.

“Soos wat ons verstaan het die seun, wat voorheen ‘n leerling aan Breërivier en Esselenpark was en nie meer skoolgaan nie, by die skoolterrein ingekom waar die heining gesteel is. Hy was agtervolg deur die groep mans en hulle het met mekaar slaags geraak op die skoolterrein. Daar was ‘n mes betrokke, maar die seun is nie gesteek nie,” het Medwin May, die skool se veilige skole-koördineerder en dissiplinehoof, gesê.

Hoërskool Breërivier
Die Worcester-polisie het vinnig opgedaag om Hoërskool Breërivier se terrein te beveilig, nadat mense toegang verkry het waar ‘n heining afgesteel is en met mekaar slaags geraak het. Die voorval het nie die skoolkinders in gevaar gestel nie, het die skool gesê.

“Dit was ‘n geïsoleerde voorval en het glad nie ons kinders in die klasse se veiligheid bedreig nie,” het hy gesê. “Ek wil graag vir die polisie ‘n pluimpie gee. Hulle was baie vinnig op die toneel gewees en het by verskeie punte op die skoolterrein beweeg asook deur die woonbuurte.” Die polisie het die skool bygestaan om hul noodplan in werking te stel.

Die skool is om veiligheidshalwe om 12:00 verdaag, met polisieteenwoordigheid.

Die seun het toegang tot die skoolterrein verkry waar die heining aan Avianpark se kant gesteel is. Ouers het hul kommer hieroor uitgespreek.

Navrae is aan die Worcester-polisie gerig en inligting sal bygewerk word wanneer dit ontvang word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article